Evergreens gaan vanjaar moeilik in die SWD se Premierliga gestuit word.
Getooi in hul nuwe vere, het die Pacaltsdorpers Saterdag die Niche T20-rugbytoernooi gewen deur Crusaders op die Pacaltsdorp-stadion in die eind-stryd met 10-5 te klop. Vir hul moeite het die wenspan R20 000 in harde kontant in hul sakke gesteek.
In die halfeindstryd vroeër het Evergreens sy plek in die eindstryd oopgespeel deur die All Blacks van Oudtshoorn in 'n kliniese vertoning met 30-0 te klop. Dit was toe reeds duidelik dat Evergreens, wat die toernooi onoorwonne afgesluit het, moeilik geklop sou word. As hy sy spelpeil kan handhaaf, gaan die Greens vanjaar sy spiere behoorlik in die Premierliga bult.
Niemand sal dit betwis dat Evergreens die Niche-titel en prysgeld verdien het nie. Maar Crusaders, self 'n span om vanjaar dop te hou, het kwaai weerstand gebied in die eindstryd en, veral in die eerste helfte, goed reken-skap van hulself gegee. Trouens, met die draaislag was hulle met 5-0 voor en het die tuistoeskouers ongemaklik in hul sitplekke rondgeskuif. Oorhaastigheid het talle belowende bewegings van Evergreens, wat in beheer was van die wedstryd, gekelder.
Maar ná rustyd het die Groenmasjien in rat geskop en sy wurggreep stadig-aan verstewig. 'n Skitterende drie deur die blitsige Joseph Fortuin het Crusa-ders se lot verseël en verseker dat Evergreens welverdiend wen.
In die halfeindstryd teen die All Blacks was Leegan Moos, losskakel, die generaal. Hy het geskitter met sy aanvallende spel en twee drieë gedruk. En bykans net so goed was die senter Deon Stoffels, wat met sy fisieke hardloopwerk en rotsvaste verdediging die teenstanders oorhoops gehad het. Dit het soms twee tot drie verdedigers gekos om hom te stuit.
Voorlangs het Dean Hopp (stut) en kaptein en slot, Marvin November, saam met die alomteenwoordige Chris Kruger en die woelige Allistair November en Gurshwin Muller dinge geroer. 'n Paar seer lywe by die besoekers is die stille getuienis hiervan.
Die All Blacks het derde geëindig deur die hoogaangeskrewe Mosselbaai met 8-0 te klop.
In die Plaatafdeling het Silver Stars vir Blanco met 10-5 geklop en Uniondale vir Albertinia met 8-5.
Deon Leminie, eienaar van Niche-logistics, borg van die Niche T20-toernooi, en die stigterslid van die toernooi, Avril Ahrends, was in hul noppies ná afloop van die toernooi. Nichelogistics se borgskap vir die toernooi het R60 000 beloop. Ahrends glo die toernooi sal net groter en beter word.
En die veiligheidsreëlings van die gasheer-klub, Uniondale, was voortreflik.
Die klubs wat vanjaar aan die toernooi deelgeneem het, was: Evergreens, Crusaders, All Blacks, Mosselbaai, Silver Stars, Blanco, Uniondale, Albertinia, Bridgton, Groot-Brakrivier, Maori's, Oudtshoorn, Harlequins, Collegians, Black Lions en Plettenbergbaai.
Evergreens het sy eerste groot rugbytoernooi van die jaar gewen toe hy Saterdag die Niche T20-rugbytoernooi gewen het deur Crusaders op die Pacaltsdorp-stadion in die eindstryd met 10-5 te klop. Vir hul moeite het die wenspan R20 000 in harde kontant in hul sakke gesteek. Hier pronk die spelers in hul nuwe rugbydrag vir die seisoen, wat deur Halfway Toyota geborg word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'