Gallery
RUGBY NUUS - Verskeie wedstryde in die premierliga is die afgelope naweek (15 Julie) beslis en rugbyondersteuners was nie teleurgestel nie. As daar een ding is wat nou reeds soos 'n paal bo water staan: Eksterne faktore het die laaste sê in vanjaar se premierliga.
Evergreens vs Jaguars
Die speeloppervlakte was die doring in die vlees vir beide spanne. Erge reënval het die Suid-Kaap die afgelope paar weke swaar getref en het die velde in haglike toestande gelaat.
Om aan te pas in hierdie jaar se klub-rugbyveldtog, sal tot en met 14 Oktober 2023 (klubfinale op Outeniquapark) die geheime sleutel tot 'n suksesvolle en positiewe uitslag vir spanne wees. Die span wat die eksterne faktore kan beheer, gaan die eindresultaat van die wedstryd en seisoen bepaal.
Evergreens, asook die tuisspan, Jaguars, moes baie gou hierdie les leer toe hulle mekaar in Saterdag se wedstryd op Crags aangedurf het. Die speeloppervlakte het dit by tye vir beide spanne ontsettend moeilik gemaak om hul ritme te vind. Hier moet die span van Eddie Myners krediet kry vir die manier hoe hulle hierdie faktor baasgeraak het.
Llewellyn Treurnicht, losvoorspeler van Evergreens het voor die aanvang van die wedstryd gesê dat dit 'n teken van onkunde sou wees om Jaguars te onderskat.
Jaguars het goed begin en het aanval op aanval geloods en by tye selfs die toeskouers van Pacaltsdorp laat stilsit.
FOTOGALERY: Eksterne faktore het die laaste sê in die jaar se premierliga
Anton Smit, kaptein van Evergreens, en sy troepe beleef tans 'n droom seisoen. Dit is duidelik dat spelers inkoop by die plan wat die afrigtingskorps week na week op die tafel sit en dat hierdie span se sukses toegeskryf kan word aan goeie leierskap op die veld. Elke speler verstaan sy rol in die span en vat volle verantwoordelikheid vir sy posisie. Dit is tans die wenresep wat Myners en sy span bo hou.
Anton Smit (slot en kaptein) het weereens sy span met passie gelei. Dit was uiteindelik sy slotmaat, David Claassen, wat die kollig gevang het. Hy het rugby by tye so eenvoudig dóg genadeloos laat voorkom. Sy vreesloosheid by die afbreekpunte het hom soos 'n paal bo water laat uitstaan. Hy was met elke faset van die spel 'n irriterende doring in die vlees van Jaguars.
Die wedstryd het uiteindelik in die guns van die besoekers geswaai met 'n bonuspunt eindtelling van 31 - 12.
Anton Smit, kaptein van Evergreens, probeer die bal in die by 'n speler van Jaquars afvat.
Crusaders vs Blanco
Óf jy 'n passievolle ondersteuner van Crusaders is en of jy hulle aanskou as jou 'aartsvyand', jy moet jou hoed afhaal vir die groep spelers. Hulle weet hoe om te wen.
Met die telling op 31 - 29 in die guns van die kampioene het dit gelyk asof die span van die gaatjie hulself moet regmaak vir 'n vernederende loesing. Dit was nooit beskore vir Bevin Fortuin en sy span nie. "Die manne het 'n wil om te presteer en dit is duidelik in die terugvegpoging van vandag se wedstryd," het die afrigter van Blanco na die nederlaag teen Crusaders vertel.
Net soos Evergreens, spog Blanco ook met goeie leiers binne in die kamp. Christo du Plessis, agsteman van Blanco, moet hier uitgesonder word. Sy harde woorde het die manne in maroen en geel laat besef dat dinge nie verby is tot die fluitjie geblaas het nie. "Ons sal moet wakker skrik as ons enigsins hierdie wedstryd wil wen."
Menigte rugbykenners meen egter dat die kampioene se wiele besig is om af te val. Beslis nie nou nie. Afrigter Ricardo Beukes en sy span het dalk nie meer die vermoë om spanne van die veld af te vee met hoë tellings nie, maar hulle wen.
Darren Fortuin, heelagter van Blanco op die aanval. Crusaders het Blanco in die 'gaatjie' in Blanco naelskraap met 31 - 29 geklop.
Progress vs Bridgton
Die blou kamp sal so gou as moontlik hulself in orde moet kry. Die klub is ontsettend ryk in geskiedenis en op die oomblik ervaar die mense in Rosemoor maar 'n baie hartseer seisoen.
Anders as Evergreens en Blanco, bevind Progress hul tans sonder bekwame leierskap en eienaarskap binne in die span en dit is week na week duidelik sigbaar as jy so na die eindtellings kyk. Progress kon net in vyf uit hul 14 wedstryde tot op hede koning kraai. Niks weggeneem vanaf die span van Bridgton nie.
Wanneer die volstruise in hierdie 'bui' is, is daar geen keer aan hulle nie. 'n Span wat definitief sterk aanspraakmakers is om wonderbaarlik in die vierde posisie in te kom sou die hekke van hierdie jaar se premierliga gesluit word. Brak staan egter in hul pad.
Progress het in die doodsnikke 'n strafskop gekry en die bal getik, in die teenstanders in gehol en die bal verloor en ook uiteindelik die wedstryd met vier punte verloor.
Venito Morris slot van Progress soek vir ondersteuning aan sy binnekant.
George wys passie
George het weer die passie getoon in hul wedstryd teen Riversdal Blues waaraan hul toeskouers gewoond is. Dit was veral die afrigter, Anton Leonard se seun, Stefan Leonard (haker) wat nie 'n voet verkeerd kon sit nie. Sy basiese spel en sterk effektiewe kraglopies was die verskil op die dag. Hy is aangewys as speler van die wedstryd. Francois Kemp het van voor af gelei en was gesamentlik met Stefan die ommeswaai in Saterdag se oorwinning teenoor Riversdal Blues.
Die losskakel, Lehogan Botha, het met een strafskop en vier doelskoppe geslaag. Die flank, Jason Martiens, het twee keer gaan kuier agter die Blues se doellyn.
George wen Blues, 43 - 34.
Groot-Brak klop Barbarians
Brak het Barbarians, Mosselbaai geklop met 49 - 0. Heidelberg het maklik met Maoris afgereken en die manne van Borcherds, op Heidedal Primêr se veld met 48 punte teenoor Maoris se 25 geklop.
Nathan Claasen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’