GEORGE RUGBY NEWS - Crusaders en Heidelberg in die een halfeindstryd met Evergreens wat Progress in die ander een aandurf. Dis die scenario met nog een ronde wedstryde dié komende naweek oor.
Maar, en dis 'n groot maar, sou Progress teen Maori's verloor (nou wat is die kanse?) en Heidelberg kry volpunte op sy tuisveld teen Evergreens, gaan dié rugbykarretjie op sy kop gekeer word.
'n Uitklopwedstryd tussen Crusaders en Progress met Evergreens wat dan Heidelberg pak, klink self nie te versmaai nie. Maar dis blote dagdromery.
Een ding is seker: Crusaders kan nie meer uit sy boonste plek in die Mic Fin Premierliga gelig word nie en Barbarians gaan dit in Parkdene aan die bas voel. Evergreens se tweede plek is ook vasgemessel.
Progress en Heidelberg hou dus die troefkaarte stewig in hul hande, maar dit staan te besien of Progress sommer sal bes gee teen Maori's. En Evergreens gaan dinge beslis nie op 'n skinkbord gee vir Heidelberg nie.
Verloop dinge soos wat rugby ondersteuners verwag, lyk dit na 'n eindstryd tussen Crusaders en Evergreens.
Saterdagmiddag in Heidedal was een groot lekkerkry met beide Maori's en George wat met aanskoulike rugby getoon het dat hulle aanstaande jaar beslis nog in die SWD se topliga moet meeding. Nie een van die twee spanne is in dié stadium groot Premierliga-aanspraakmakers nie, maar hulle is beslis nie uit hul diepte nie.
Maori's, tans tiende op die puntelys, het die laaste ruk mooi reggeruk terwyl George (sesde) aanstaande seisoen vir homself 'n plek onder die voorste vier kan losspeel. Albei spanne kan doen met 'n paar versterkings.
George se puik agttal het voorlangs oorheers en Maori's, veral in die skrums, kwaai laat les opsê. Maori's se agterspelers, daarenteen, het George se verdediging telkemale aan flarde gehardloop en 'n paar mooi drieë gaan druk. George sal sy fiksheid moet opskerp as hy met die groter honde wil saamdraf.
Dis mos sportmangees op sy beste. Die rugbyspelers van George en Maori’s ná afloop van hul Mic Fin Premierliga-kragmeting in Heidedal wat George met 43-34 gewen het. Met aanskoulike rugby het albei spanne gewys hulle hoort tuis in die SWD se topliga. Foto: Johan Faasen
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'