GEORGE RUGBY NUUS - Crusaders (1), Evergreens (2), Progress (3) en Heidelberg (4) gee reeds geruime tyd die pas aan in die Mic Fin Premierliga.
En hulle is die enigste vier wat 'n realistiese kans staan om op 14 September in die halfeindstryde teen mekaar te speel.
Vir die ander spanne is dit, helaas, koebaai Meraai.
As Heidelberg (70 punte) in sy laaste drie oorblywende wedstryde heeltemal uit die bus val, kan Groot-Brakrivier (60) en selfs Barbarians (59) nog by die agterdeur inglip, maar dié skrefie is papierdun. Die kanse dat Heidelberg teen Jaguars of Silver Stars gaan verloor, is uiters gering. In sy laaste wedstryd pak hy Evergreens tuis en dit kan nogal 'n riller afgee.
Heidelberg moet egter in sy pasoppens wees dat oorgerustheid hom nie in die pylvak kelder nie. Beide Silver Stars en Jaguars het die laaste ruk sterk vertoon.
Crusaders moes Saterdag alles in die stryd werp om 'n begeesterde Silver Stars te wen.
Crusaders was duidelik tam ná 'n uitmergelende week waarin hulle drie wedstryde moes speel en het aanvanklik gesukkel om aan die gang te kom teen Silver Stars. In die tweede helfte het hulle na 'n hoër rat oorgeskakel en drie pragdrieë gedruk.
En Jaguars het vir een van die groot skokke van die seisoen gesorg toe hy Bridgton met 37-36 geklop het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'