GEORGE RUGBY NUUS - Van die twee honde wat die hardste om die rugbybeen baklei, het Crusaders die eerste groot hap ingekry toe hy Evergreens verlede Saterdag op Parkdene verrassend met 36-30 geklop het.
Plaaslike rugbygeesdriftiges het gereken Pacaltsdorp se spogspan sal dié ene gemaklik deurtrek.
Daar is 'n rede waarom die twee spanne die pas aangee en mekaar waarskynlik weer in die eindstryd gaan sien. Albei spanne weeg goed teen mekaar op en hulle ken mekaar se sterk- en swakpunte.
Evergreens het die eerste helfte oorheers danksy die voor- en agterspelers wat puik saamgespeel het. Met 'n rustydvoorsprong van 22-14 het dit gelyk of die besoekers maklik gaan wen.
Net ná rustyd het Crusaders sy plaasvervangerbank leeggemaak en toe stook hy, veral voorlangs, die vuur. Dit het die deurslag gegee en Evergreens kon eenvoudig nie die rooi golf keer wat ook hom gespoel het nie.
Maar hardnekkig verdediging en punte in die laaste minute het so amper weer vir Evergreens sy neus laat voorkry. Pasop nou vir daai derde hond met die blou truitjie wat dalk met die been kan wegdraf.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'