Gallery
RUGBY NUUS - 'n Wen is 'n wen, al is dit met twee punte. Maar hoe dit gedoen is, is wat in dié stadium kommerwekkend is.
Selfs die getrouste ondersteuners sal erken Riversdal Blues se broodnodige oorwinning oor Maori's verlede Saterdag met 34 - 32 was nie mooi nie.
Die eerste helfte was 'n getjommel met die tuisspan wat talle ongedwonge foute begaan en swak verdedig het en om die een of ander onverklaarbare rede besluit het om Maori's agterlangs met hardlooprugby aan te vat.
Dit het nie gewerk nie, want die besoekers het kringe om hulle gehardloop. Met die Blues telkens op die agtervoet en hul verdedigingspatroon deurmekaar, kon Maori's toor met die bal. Hier het die Blues se verdedigers ook hopeloos te stadig in hul plekke ingeskuif en kon die besoekers die gapings, so groot soos waenhuisdeure, aanval.
FOTOGALERY: Riversdal Blues sukkel teen Maori's
Voorlangs was die tuisspan baie sterker as Maori's, maar in stede daarvan om die bal onder die voorspelers te hou en die spel stadiger te maak, wou die Blues met hul agterspelers speel - reg in die hande van Maori's.
Die tweede helfte was beter, maar die Blues sal hulself moet herontdek en baie diep moet delf indien hulle nog enigsins wil hond haaraf maak in die Super A-liga. So nie gaan hulle vanjaar bloei.
Die kere wat Andrew Jacobs met die bal gehardloop het, moes Maori's behoorlik hul keer ken om hom te stuit. Foto's: Hugo Redelinghuys
Die keurders sal hul net dalk wyer moet span as net die poel spelers waaruit die eerste span gekies word.
Daar is 'n paar agterspelers met bekwame spoed, byvoorbeeld in die derde span, wat met hul vaart 'n groot verskil in die Blues se topspan maak. Een of twee posisionele skuiwe in die agterlyn kan ook die slaankrag verhoog.
Dis nou tyd vir 'n paar dapper besluite.
Dit het Saterdag maar broekskeur gegaan met die Riversdal Blues teen die besoekende Maori's van George. Hier duik Jaco Arendse, kaptein van die Blues, oor die doellyn met sy broek letterlik op sy enkels.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’