GEORGE NUUS - Die duisende toeskouers, wat Saterdag 3 Junie by die Pacaltsdorp-sportterrein opgedaag het vir die rugbywedstryde tussen Crusaders van Parkdene en Evergreens van Pacaltsdorp, was beslis nie teleurgesteld nie.
Die wedstryde word elke jaar as van die grootstes beskou. Saterdag kon nie eers die hoofpawiljoen, wat steeds nie gebruik kon word nie, die geesdrif demp nie.
Toeskouers het reeds van vroeg na die stadion gestroom. In een stadium is Peter de Villiers, voormalige hoofafrigter van die Springbokke en deesdae lid van die Wes-Kaapse wetgewer, in die skare opgemerk.
Die hoofwedstryd, wat om 16:00 begin het, was die Danville van Heerden-gedenkwedstryd. Dit was ter nagedagtenis van Van Heerden, 'n onderwyser by Pacaltsdorp Sekondêr en geesdriftige rugbyondersteuner wat op 8 Mei 2022 onverwags oorlede is.
Die hoofwedstryd is gewen deur Multisure Crusaders met 19 - 7. Dit is Evergreens se eerste nederlaag sedert nege wedstryde. Na die wedstryd kon kaptein Lyle Delo die Danville van Heerden-beker lig tot groot vermaak van die skare.
FOTOGALERY: Crusaders teen Evergreens
Crusaders-spelers stoei met Evergreens se Anton Smit om besit van die bal. Foto: Granville Jansen
Crusaders se B-span onder aanvoering van Pieter Hector (Pikes), was aan die verloorkant na 'n klipharde wedstryd. Die telling was 11 - 10 ten gunste van Evergreens.
Die C-span, ook bekend as die Wolwe het ook die onderspit gedelf. Volgens James Stevens van die Crusaders het die span hard geveg in die eerste helfte.
Dit is in swaar, winderige toestande gespeel. By tye was dit 'n modderbad.
Teen die einde van eerste helfte was Evergreens (die tuisspan) reeds met 17 - 0. voor.
Na 'n spanpraatjie tydens rustyd deur Crusaders se hoofafrigter, Alberto Williams en die hoof- uitvoerende beampte, Gavin Muller, het die span 'n tweede asem gekry en die tuisspan onder baie druk geplaas.
Foto: Braam America
Aubin Polisieman Lewis, het 'n drie gaan druk en Johryn Jantjies het met die doelskop geslaag. Ongelukkig het die tyd te vinnig uitgeloop vir die Wolwe sodat hulle nie die laaste 10 punte kon maak nie om die agterstand uit te wis nie. Die tuisspan kon geen punte aanteken gedurende die tweede helfte nie.
Die man van die wedstryd was Wilferd Ntlanganiso van die Wolwe.
Crusaders se volgende wedstryde is op Saterdag 10 Junie teen Heidelberg op Parkdene.
Evergreens speel die komende Saterdag 10 Junie teen George-rugbyklub op Outeniquapark.
Peter de Villiers, voormalige hoofafrigter van die Springbokke hou 'n oog oor die hoofwedstryd Saterdag op Pacaltsdorp.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’