Gallery
GEORGE RUGBY NUUS - Crusaders was veels te sterk vir George in hul Mic Fin Premierliga-kragmeting verlede Saterdagmiddag op Outeniquapark en het dié stryd gemaklik met 45-18 gewen.
George se ondergang was sy lang beseringslys aan sleutelspelers. As jy in dié liga opdraf minus sewe gereelde eerstespanspelers, gaan jy gewiks word.
Crusaders het die situasie goed uitgebuit en die pap veral voorlangs dik aangemaak. Met bulle soos Gurshwin Muller, Lyle Delo, Arden Wesso, Wayne Kahn, Solomon Manxodidi en Christo du Plessis in jou span, gáán jou teenstander klippe kou. En agterlangs het Earl Rouls, Pieter Hector en die gevaarlike Jayden Onkers uitgeblink met hul aanvallende spel en George se verdediging gereeld oorhoops gehad.
As George die beseringspook kan verdryf, staan hy nog 'n sterk buitekans om die uitspeelrondes te haal. Crusaders lê stewig in die tweede plek op die puntelys.
Die skeidsregter, Ruhan Meiring, verdien 'n pluimpie vir sy netjiese hantering van die wedstryd. En sommer 'n groot handeklap vir die Crusaders-ondersteuners wat met hul aansteeklike gesingery op die hoofpawiljoen die koue verdryf het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'