Gallery Video
RUGBY NUUS EN VIDEO - Ofskoon die uitslag van die hoofwedstryd op die eerste dag van die o.18 Cravenweek, Maandag 3 Julie tussen WP en SWD op Outeniquapark nie was wat die tuisskare wou gehad het nie, het dit nie afbreek aan die geesdrif gemaak nie.
Die eindtelling was 42 - 12 in WP se guns.
WP, die verdedigende kampioen, het net te veel skietgoed gehad vir die moedige SWD-span. In die doodsnikke van die wedstryd het SWD 'n drie gaan druk en die skare uit hul sitplekke laat opstaan, maar toe het WP reeds die wedstryd in die sakkie gehad.
Goeie rugby is opgedis en as wyle dr. Danie Craven, na wie die toernooi vernoem is, teenwoordig was, sou hy nie anders kon as om te glimlag nie.
Vanjaar se geleentheid is deel van Hoërskool Outeniqua se 100-jarige feesvieringe. Heel gepas het Dewald Human, 'n oudleerling van die skool, 'n boodskap van inspirasie gebring. Human was in 2013 'n gr.12-leerling by die skool en die afgelope paar jaar is hy een van die Blitsbokke se sleutelspelers.
Hennie Baartman, lid van SA Rugby se uitvoerende bestuur, het gesê tydens die geleentheid word die besondere rugbytalent in die land ten toon gestel. Volgens hom is groot dank aan die ouers en onderwysers van die spelers verskuldig. Voorts aan die afrigters wat hard gewerk het om die spanne goed voor te berei.
FOTO GALERY: Cravenweek op George
Christo Vorster, hoof van Kwaggas en Noel Ingle, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rugby-skolevereniging.
In die stadion het 'n karnaval atmosfeer geheers en bekendes soos Willem Strauss, president van die Blou Bulle en Bevin Fortuin, oud-Springbok is opgemerk.
Altesaam 16 spanne vanoor Suid-Afrika is betrokke en die geleentheid word vandag, 6 Julie voortgesit. Môre kry die spelers 'n rusdag en Saterdag is die finale wedstryde.
Christo Vorster, hoof van Hoërskool Outeniqua, het sy tevredenheid met die afloop van die eerste dag uitgespreek. Die skool is saam met George-munisipaliteit en SWD-rugby die gashere vir die toernooi.
Anton Moolman, afrigter van die SWD Arende, het gesê daar is regtig talent te sien tydens die geleentheid. Die beste talent word op een platform gesien.
"Ek het geen twyfel dat dit 'n voedingsbron vir Suid-Arikaanse rugby is nie. Suid-Afrika se skole rugbysisteem is waarskynlik een van die bestes in die wêreld."
Strauss het gesê die Cravenweek is altyd 'n hoogtepunt op die rubykalender. Die Cravenweek is al vir dekades 'n teelaarde vir Springbokke.
VIDEO: SWD is by die Cravenweek
Noel Ingle, voorsitter van die Suid-Afrikaanse rugby skolevereniging, het gesê dis beslis die toekoms van rugby in Suid-Afrika wat daar te sien is. "As jy toekomstige Springbokke in aksie wil sien, woon die geleentheid by."
Leon van Wyk, George se burgemeester, het gesê dis 'n baie groot eer vir die stad om die geleentheid te kan aanbied.
Willie Cilliers, voorsitter van die George-sakekamer het gesê George vind baie baat by die geleentheid. Sport is nog altyd 'n saambindende faktor.
Buiten die voordele op sportgebied het dit ook ekonomiese voordele. Wie weet dalk is daar een van die besoekers soos 'n ouer wat terwyl hy/sy hier is moontlikhede ondersoek om 'n belegging te maak.
SWD op die aanval. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'