GEORGE NUUS - Reëlings is op koers vir die o.18 Cravenweek wat Maandag 3 Julie in George begin en op Saterdag 8 Julie eindig.
Na verwagting sal die spelers en ondersteuningspersoneel reeds die naweek in George begin saamtrek.
Altesaam 16 spanne vanoor Suid-Afrika is betrokke en verskeie van die wedstryde sal op televisie uitgesaai word. Elke span bestaan uit 26 spelers/ondersteuningspersoneel.
Dit is algemeen bekend dat talentsoekers van die groot provinsiale unies/spanne ook die geleentheid bywoon en op die uitkyk sal wees vir wie hulle kontrakte kan aanbied. Die geleentheid word gesien as 'n toekomsblik op Suid-Afrikaanse rugby.
Die eerste wedstryde is Maandag op Outeniquapark. Die prestige geleentheid sou aanvanklik op die A-veld van Hoërskool Outeniqua plaasvind.
Die impak van die onlangse reën het egter veroorsaak dat Outeniqua se A-veld nie in 'n geskikte toestand sal wees om verskeie rugbywedstryde te kan hanteer nie. Enkele wedstryde die Saterdag sal op Outeniqua se C-veld plaasvind.
Vanjaar se geleentheid is deel van die skool se 100-jarige feesvieringe.
SWD speel op die eerste dag teen die verdedigende kampioen WP. Dit sal die middag voorafgegaan word deur 'n amptelike openingseremonie.
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het Dinsdag gesê dinge is op koers en daar is groot opgewondenheid. Toeskouers is welkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’