Gallery
GEORGE RUGBY NUUS - Progress se vlugvoetige heelagter, die 23-jarige Cameron Lentoor, het Saterdagmiddag uitstaande spel gelewer teen Groot-Brakrivier op die Rosemoor-sportterrein.
Progress, wat nog die voorloper in die Premierliga-rugbykompetisie van die SWD is, het die kragmeting met 34-13 gewen. Rustyd was hul reeds met 22-13 voor gewees.
Lentoor het die groot aantal toeskouers op hul voete gehad met sy spoed en voorgevoel vir die spel. Die drie van die wedstryd was ongetwyfeld deur Cameron gedruk, nadat hy binne sy eie gebied begin hardloop het en verskeie teenstanders in die lug laat gryp het op pad doellyn toe. Hy is ook aangewys as speler van die wedstryd.
Progress se pak voorspelers het die grondslag vir die oorwinning gelê. Met die baie balbesit het hul vyf pragdrieë gedruk.
Voorlangs het Christo du Plessis (agtsteman), Shaun Raubenheimer (flank) en slotpaar, Gaywin Smith en Justin Levendal, die vonk verskaf.
Fizell Fredericks, (regtervleuel) en senterpaar, Ethan Williams en Carlton Dee Coeries, was agterlangs gevaarlik met die bal in die hand.
Die wenspan se plaasvervangersbank het in die tweede helfte ook 'n groot verskil gemaak, veral Jean Volkwyn, Xavier Scholtz, Mzoxolo Dyantyi en Jonathan Simmers.
Vir Groot-Brakrivier het Anroy Roelfse (agtsteman), Byroll Stuurman (flank) Friedl Muller (slot), Ronwen Agent (skrumskakel) en Ashwill Frans (losskakel) die oog gevang.
Ethan Williams, Carlton Dee Coeries, Christo du Plessis en Brainton Booysen (haker) het die wenspan se ander drieë gedruk. Fredericks slaag ook met drie doelskoppe en 'n strafdoel.
Winrich Kennedy (loskopstut) het die besoekers se enigste drie gedruk. Roshwin Abrahams (heelagter) slaag met die doelskop en klits nog twee strafdoele oor.
Ethan Williams, senter, duik oor vir sy drie met Henn-Lin Botha wat hom tevergeefs probeer duik het. Foto's: Anton Gericke
Crusaders het op die Parkdene-sportterrein sy posisie verstewig op die punteleer met hul oorwinning van 26-24 oor Evergreens. Dit was 'n spannende wedstryd waar beide spanne elk vier drieë gedruk het en baklei het vir 'n plek in die uitspeelrondes.
Samdelekosi Sam, Elroy Havenga, Layle Delo en Rico Afrika het vir Crusaders gaan druk. Henry Wolhuter slaag met drie doelskoppe.
Vir Evergreens is Nathan Beuckman (regtervleuel, 2), Luciano Jones (buitesenter) en Gershwin Muller oor vir drieë. C-Than Moos (losskakel) slaag met twee doelskoppe.
Barbarians het op die D'Almeida-sportterrein nege drieë gedruk in hul oortuigende oorwinning van 57-30 oor Silver Stars.
Wahlon Anthony (plaasvervanger-heelagter, 2), Shario Rosenkrantz (buitesenter), Justin Bhana (heelagter), Jerome Fillies (regtervleuel), Jose Pietersen (linkervleuel), Macdelin Saayman (losskakel), Aden Jones (flank) en Morné Buis (plaasvervanger-skrumskakel) is oor vir drieë vir die wenspan. Saayman klits ook 'n doelskop oor en Ralton Ocktober (plaasvervanger-binnesenter) slaag met vyf doelskoppe.
Vir Silver Stars is Henwico Stal (senter) Martin Mangango (losskakel), Julian Johnson (slot) en Johannes Olivier (stut) oor vir drieë. Stal slaag ook met twee doelskoppe en strafdoel en Henrico Scott (heelagter) klits ook 'n strafdoel oor.
Christo du Plessis, agtsteman, duik oor vir sy drie teen Groot-Brakrivier.
Bridgton het vir Maori's op die Heidedal-sportterrein in 'n naelbytstryd met 33-28 geklop.
Blade James (flank), Keanin Esau (heelagter) en Branwin Wanies (regtervleuel, 2) is oor vir drieë vir die wenspan. Keanin Esau (heelagter) slaag met twee doelskoppe en drie strafdoele.
Vir Maori's is Marshelle Frans (heelagter), Cedrick Ryneveldt (regtervleuel, 2) en Alton Tarentaal (binnesenter) oor vir drieë. Tarentaal slaag ook met 'n doelskop en twee strafdoele.
Heidelberg het op sy tuisveld vir Blanco met 38-7 geklop. Marquit September (2), Jason Liebenberg, Simon du Toit en Jason Michaels is vir die wenspan oor vir drieë. Corbin Swartbooi slaag met vier doelskoppe en 'n strafdoel en Pieter van Rensburg Uys klits ook 'n doelskop oor.
Marquin Smart, plaasvervanger-slot van Groot-Brakrivier, word om sy middellyf beetgekry deur Mzoxolo Dyantyi, plaasvervanger-skrumskakel van Progress, met Shaun Raubenheimer wat van regs af op hom toesak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'