RUGBY NUUS - Dit het Bridgton nét 15 minute geneem om hul boodskap aan die res van die spanne in vanjaar se kompetisie oor te dra - ons het gekom vir 'n plek in die uitspeelrondes.
'n Absolute stilte het oor Pacaltsdorp geheers. Bridgton het pas die mat onder Evergreens se voete uitgetrek met 'n telling van 13 - 0.
Bridgton was op pad om die getroue toeskouers van Pacaltsdorp se harte in repe te skeur.
Twee verdoelde strafskoppe deur die liefling binnesenter van Pacaltsdorp, Jade Stoffels, blaas weer hoop in die longe van die Pacaltsdorpers. Telling nou op 13 - 6. Bridgton hou geensins terug nie en het aanval op aanval van stapel gestuur.
Die groenmasjien moet keer. Evergreens het net voor halftyd gedruk en sake gelykop gemaak.
Evergreens het die wedstryd voltooi soos 'n Usain Bolt. Die belangrikste is nie altyd hoe jy begin nie, maar hoe jy momentum opbou en volhou daarmee. Dit is presies wat die span van Pacaltsdorp reggekry het in hierdie wedstryd, iets wat Bridgton nie kon volhou nie.
Die drie voor halftyd was nie net om die telling gelykop te maak nie, maar het ook 'n sielkundige agterstand by die span van Stanley Kruger, hoofafrigter van Bridgton, agtergelaat. Iets wonderbaarlik het vir die span in groen tydens die breek gebeur. Evergreens was soos 'n bedorwe brokkie: "As jy dit kan doen, kan ek dit ook doen."
Hulle het die tweede helfte afgeskop en binne 'n kwessie van 15 minute, 21 punte aangeteken.
Skielik was dit 34 - 13 in die guns van Evergreens. Bridgton het geen antwoorde gehad nie, die drie voor halftyd het die een span momentum gegee, terwyl die ander net nooit weer uit daardie groef kon kom nie.
Kan jy tans rugby praat en nie die naam Jade Stoffels deel van jou gesprek maak nie? Ek reken nie so nie. Week na week bewys die jongman hom in elke posisie waar Eddie Myners dit goedvind om hom te gebruik. Klubrugby se eie Francois Steyn.
Die rillerstryd moes tot 'n einde kom. Evergreens het met 37 – 27 gewen.
Crusaders teen Progress
Rugby het gewen! Meer eenvoudig kan dit nie gestel word nie. Crusaders en hul ondersteuners, selfs die van Progress, het tot die laaste minuut gewonder of Progress 'n span op die veld sal kan stuur.
Gewoonlik word die gesegde net gebruik wanneer spanne vernederende nederlae ontvang het. "Ag boys, rugby het op die einde van die dag gewen." Ongeag die eindtelling het rugby werklik geseëvier. Die wedersydse respek wat na afloop van die wedstryd tussen beide spanne geheers het, was rede genoeg om te verseker dat rugby nog lank die middelpunt van ons gemeenskappe gaan wees.
Progress moes hierdie seisoen gebuk gaan onder kritiek. Die bal wil net nie reg bons nie. Die jongmanne wat uiteindelik die blou trui oor hul koppe getrek het om die span se naam gestand toe doen, het glad nie teleurgestel nie.
Hulle het werklik hul harte op daardie veld agtergelaat. Die wedstryd is in só 'n gees gespeel dat jy nie een speler kon uitsonder nie. Al 46 spelers verdien om die man van die wedstryd te wees.
Crusaders het hierdie derby gemaklik met 50 - 11 gewen.Jason Wagman, vlugvoetige losskakel van Progress waag dit om die ervare Xavier Scholtz (haker) en Buran Parks (flank) van Crusaders aan te vat. Lyle Delo (stut en kaptein) werk hard om sy spanmaats te ondersteun. Foto: Claywon Kleinbooi
Groot-Brak en Riversdal Blues
Groot-Brak het gemaklik met Riversdal Blues afgereken en het baie belangrike ligapunte ingesamel. Punte wat nader aan die uitspeelrondes tot hul voordeel sal wees sou Bridgton óf Blanco begin om te rem aan die deur.
Hierdie wedstryd is in Riversdal beslis. Groot-Brak het met 24 - 7 gewen.
Blanco wen teen George
Blanco het George geklop in 'n wedstryd wat weens die speeloppervlakte nie gespeel sou word nie.
Blanco het egter aangedring dat die wedstryd gespeel moet word. George wou dit nie hoor nie. Die gemoedere was hoog.
Christo du Plessis het Blanco telkemale vorentoe geneem met bal in die hand. Die wedstryd het by tye soos 'n boksgeveg gelyk. Blanco het die wedstryd beklink en ook waardevolle punte opgetel op hul tuisveld. Die eindtelling was 36 - 14.
Christo du Plessis, agsteman van Blanco veg om oor die voordeellyn te kom met sy eweknie en kaptein Francois Kemp wat veg om hom grond toe neem. Jamie Stoffels, skrumskakel van Blanco spook om in 'n ondersteunende posisie te kom. Foto: David Blaauw
Heidelberg vs. Jaguars
Heidelberg is tans die mees konstante span naas Crusaders.
Hulle is hard op pad na hul derde agtereenvolgende uitspeelronde.
Hulle mag dalk net voluit gaan hierdie keer. Heidelberg wen Jaguars gemaklik met 57 - 10 op Heidelberg.
Barbarians vs Maoris
Iemand moes na 'n lang tyd so bietjie seëvier en die sjampanje oopmaak. Dit was toe die tuisspan, Barbarians, wat in 'n hoë-tempo wedstryd die oorhand gekry het en Maoris met 46 teenoor 29 laat les opsê het.
Die punteleer: Die wat eerste is sal eerste bly. Week 15 was die naweek om alles om te krap, maar dit het nie gebeur nie.
Al die spanne wat nou nog kan baklei vir een plek is Groot-Brakrivier, Bridgton en Blanco. Die res - speel jou klub se trots terug, eindig op 'n hoë en positiewe noot.
Tot volgende week!
Nathan Claasen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’