Evergreens het op sy tuisveld in Pacaltsdorp behoorlik gesukkel teen 'n omgekrapte Groot-Brak-span vol ondernemingsgees. Evergreens het Groot-Brakrivier op sy tuisveld in die doodsnikke met 31-30 geklop. Diegene wat gelukkig genoeg was om 'n sitplekkie in die volgepakte stadion te kry, het hul boude deurgeknyp.
En op Mosselbaai het Progress die Barbarians-ondersteuners se senuwees, geloof en lojaliteit tot aan die einde getoets voordat die tuisspan met 12-10 kon deurdring. Groot-Brakrivier het, veral agterlangs, gekook en sy driekwarte het Evergreens se verdediging soms skoon oorhoops gehad het.
Hoewel die twee pakke voor-spelers goed teen mekaar opgeweeg het, het die tuisspan se gewigsvoordeel later ingeskop en was hulle in dié afdeling beter daaraan toe.
Dit was aanvanklik 'n wipplankryery met dan die een span voor en dan weer die ander een. Maar, toe trek Groot-Brak los en loods die een aanval na die ander. Met nog sowat 'n kwartier se speeltyd oor het hulle gerieflik voorgeloop met 30-14 en het dit gelyk of Evergreens begrawe is.
Maar, daar's 'n rede waarom Evergreens vir lank die voorloper in die Premierliga was. Dié manne kán koelkop bly onder druk. Die manier waarop Evergreens teruggeveg het om 'n amperse nederlaag in 'n nael-skraapse oorwinning te omskep, was besaai met voorbeelde van goeie besluitneming en sielkundige staal.
Mirco Geduld, afrigter van Evergreens, was agterna 'n verligte man. "Dit was verblydend om te sien hoe die spelers se karakter na vore gekom het en hulle onder groot druk - en met 'n groot agterstand - vasgebyt het, hul kanse afgewag en benut het om in die doodsnikke met 'n strafskop voor die pale te wen. "Ons was nooit paniekbevange nie al het Groot-Brak die telling gerek en het ons soms die verkeerde opsies uitgeoefen. Ook toe die momentum geswaai het in hulle guns, het ons enduit gefokus en koelkop gebly. Ek is tevrede met hoe ons gespeel het."
So naby en tog so ver vir beide Progress en Groot-Brakrivier, maar selfs die getrouste rugbyondersteuners van die twee fina-liste wat na die eindstryd deurgedring het, sal saamstem dat die twee verloorspanne albei vanjaar voortreflike rugby opgedis het en net sowel in die eindstryd kon gespeel het.
Klik hier vir fotogalery.
Gelukkige Evergreens-ondersteuners nadat hul span na die eindstryd deurgedring het. Foto's: Jan Venter (082 566 0935)
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'