STREEKNUUS - In hul eerste ligawedstryd van die 2024-rugbyseisoen het Barbarians op hul tuisveld, D'Almeida Park, Mosselbaai vir Progress van George in 'n titaniese kragmeting met 34 - 20 geklop.
Vanaf die afskop het Barbarians die besoekers onder druk geplaas met klassieke hardlooprugby tussen voor- en agterlynspelers.
Die tuisspan se agttal wat in die eerste helfte die vaste fasette oorheers het en by die afbreekpunte ook die botoon gevier het moet lof kry vir hul goeie samespel. Progress het ook uit die staanspoor goeie aanvalslyne gehardloop, maar kon nie die doellyn oorsteek in die eerste helfte nie, terwyl Barbarians drie keer agter die doellyn gaan kuier het.
Halftyd
Die spanne het gedraai met 17 - 6 in die guns van Barbarians, terwyl beide spanne se ondersteuners in afwagting was vir 'n interessante tweede helfte.
Die tuisspan wat eerste oor die doellyn gegaan het in die tweede helfte het hul ondersteuners op die agtervoet gehad, maar dit was nie vir lank nie.
Met die telling 24 - 6 in die guns van Barbarians het daar ewe skielik 'n insinking in hul verdedigingspatroon gekom. Progress wat 'n geelkaart gekry het, het met 14 man twee keer agter Barbarians se pale gaan kuier en skielik was hulle binne tref afstand. Met die telling 24 - 20 in die guns van die tuisspan kon die wedstryd nog enige kant toe swaai. 'n Oorwinning het gewink vir die besoekers. Die tuisspan het egter herstel en het twee keer gaan druk na goeie hanteerwerk deur voor- en agterlynspelers. Vir Progress was die skrif aan die muur.
Barbarians wat hierdie kragmeting met 34 - 20 gewen het, het ook 'n geelkaart gekry en sal hulle dissipline drasties moet opskerp, want geelkaarte was menige spanne se ondergang.
Die tweede en derde spanne het onder-skeidelik met 32 - 3 en 30 - 7 gewen.
Saterdag
Hierdie naweek speel Barbarians teen George in 'n wegwedstryd, wat nie 'n maklike een gaan wees nie. In hul eerste wegwedstryd op Heidelberg het George goeie teenstand gebied teen die 2023 naaswenners van die SWD Premier finaal. Barbarians behoort as die gunstelingspan op die veld te draf, indien hulle kan verbeter op hul vorige wedstryd.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’