GEORGE RUGBYNUUS - Hennie Baartman, bekende skoolhoof van Eljada-Kairos Skool op Oudtshoorn en ook president van die SWD-rugbyunie, is verlede maand deur SA rugby in kennis gestel dat hy verkies is op die SA uitvoerende rugbyraad wat die Britse en Ierse Leeus se toer na Suid-Afrika in 2021 gaan reël.
Die Britse en Ierse internasionale rugbyspan, wat elke vier jaar in verskillende lande toer, word gekies uit die beste spanne van Engeland, Skotland, Ierland en Wallis en sal vanaf Junie tot Julie 2021 agt wedstryde in totaal speel wat drie toetse en vyf oefenwedstryde sal insluit.
Volgens 'n ekstatiese Baartman is hierdie prestasie die hoogtepunt van sy administratiewe rugbyloopbaan.
"Omdat ek tans die langs-dienende president van al die rugbyunies in die land is (9 jaar), het die huidige president van SARU (Suid-Afrikaanse Rugbyunie), Mark Alexander, my genomineer as gevolg van my bewese vlekvrye administratiewe rekord en ervaring.
Ek voel besonder geëerd as Karookind dat ek betrokke is by hierdie projek wat 'n allemintige biljoen rand beloop.
Dié raad se eerste sitting, onder leiding van Allan Swiegers (voorsitter), het reeds op 17 April in Kaapstad plaasgevind.
Hy beskryf sy meteoriese opgang in die rugbywêreld as opwindend, maar ook uitdagend.
"Ek het in 2003 vir die eerste keer betrokke geraak by rugbyadministrasie nadat ek my stewels as speler (senter) by Bridgton-rugbyklub opgehang het en eers die hulpsekretaris en later sekretaris van dié klub geword het.
In 2008 is ek tot voorsitter van Bridgton-rugbyklub verkies totdat ek in 2010 die tuig neergelê het nadat die SWD-rugbyunie my genader het om die leisels as voorsitter van dié unie oor te neem."
Bridgton-rugbyklub het toevallig in hierdie periode met Baartman as voorsitter 'n goue rugbyera beleef toe hul A-, B- en C-spanne in 2005 en 2008 gelyktydig as SWD Premierliga-kampioene gekroon is.
Sedertdien het hy ook tot onlangs (2016) as direkteur van die Stormers en Southern Kings se rade gedien.
Tans sit hy ook op SARU se transformasie-, grondwet- en speler- en agent se uitvoerende raad.
Baartman sê dat al hierdie prestasies maar lig opweeg teen sy liefde vir die onderwys. "Ek's 'n opvoeder in murg en been, en ek voel dis spesifiek by Eljada-Kairos waar ek my gemeenskap op my beste kan dien.
Hulle sal my by die skool eendag moet uitdra, het hy laggend bygevoeg.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'