Gallery
GEORGE NUUS - Die SWD Arende begin môreaand, 1 April, amptelik hul nuwe rugbyseisoen. Ofskoon die span die afgelope weke al 'n aantal vriendskaplike wedstryde gehad het, speel die span teen die OP Olifante in sy eerste wedstryd vanjaar in die eerste divisie van die Curriebekerreeks.
Dit sal die eerste wedstryd onder die nuwe afrigter, Anton Moolman wees.
Die span het verlede week by die Hartenbos-amfiteater geoefen ter voorbereiding van môreaand se wedstryd.
Moolman is sedert Februarie die afrigter van die Arende. Hy het die leisels by Eddie Myners, wat nou die assistent-afrigter van die Springbok-vrouerugbyspan is, oorgeneem.
Moolman het Dinsdag aan George Herald gesê die span het goed voorberei vir die wedstryd. "Ons beplanning het goed verloop. Ons het alles gesien wat ons moes in ons twee opwarmingswedstryde."
FOTOGALERY: SWD Eagles aim to soar in Currie Cup
Volgens hom wil elke span goed begin in hul eerste wedstryd en die druk is altyd daar met die eerste wedstryd. Vir die Arende nog meer, want dis 'n tuiswedstryd.
Hy het bygevoeg: "'n Oorwinning sal die seisoen op 'n hoë noot laat begin."
Môreaand se wedstryd begin om 19:00 op Outeniquapark en net 2 000 toeskouers sal volgens Covid-19-regulasies toegelaat word.
Verlede jaar se wedstryde
Die Arende het verlede jaar gemengde welslae behaal. Die span het hul eerste wedstryd met 17-50 teen die Valke verloor.
Die twee wedstryde wat daarna moes plaasvind teen die Luiperds en die Valke, moes afgestel word as gevolg van Covid-19. In hul wedstryd teen Boland in Wellington het hulle 21-28 verloor.
Teen Grens Bulldogs het hulle 50-29 gewen, maar in hulle laaste wedstryd teen die Olifante met 28-19 verloor.
Die span neem 'n oomblik om hul planne agtermekaar te kry.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'