RUGBY NUUS - Die SWD Arende se eerste opwarmingswedstryd van die seisoen het verlede Saterdag in Gqeberha teen die OP Olifante 'n duidelike sein gestuur dat dié span gerat is om in 'n gedugte eenheid te ontwikkel wat sy spiere op die veld kan bult.
Met 'n oorwinning van 35 - 31 het die Arende ook die potensiaal van sy jong en ervare spelers vir die komende seisoen gewys.
Nou rig hulle hul fokus op hul volgende opwarmingswedstryd teen Boland Kavaliers op Outeniquapark, met afskoptyd Vrydagmiddag om 15:00.
Vir hoofafrigter, Heyneke Meyer, is dit nie net 'n toets van vaardigheid nie, maar van spanontwikkeling en fiksheid. "Ja, die wedstryd teen Boland gaan vir die Arende 'n groot toets wees," sê Meyer.
"Ons is slaggereed vir die uitdaging en verwag 'n groot aanslag van die besoekers wat bekend is vir hul hardlooprugby. Dis die ideale geleentheid om die foute van ons eerste opwarming teen die OP Olifante reg te stel en voort te bou op die goeie wat ons daar ten toon gestel het."
Meyer sê vroeë opwarmingswedstryde is nie altyd 'n maatstaf van sukses nie. "Wat wel waardevol is, is dat mens jou spelers se fiksheidsvlakke en samespel kan beoordeel en sien waar daar ruimte vir verbetering is. Dit was 'n goeie begin."
In die wedstryd teen die OP Olifante het hy met twee spanne gewissel: "In die eerste helfte het ek my meer ervare spelers ingespan en dit het duidelik gewys. Die jonger, minder ervare spelers het in die tweede helfte hul kans gekry."
Die resultaat het vir Meyer bevestig dat die span oor talent beskik om 'n gedugte eenheid te vorm.
"Ons ervare spelers se samespel was uitstekend en in die lynstane en skrums het ons puik vertoon. Die verdediging het ook uitgestaan.
"Uiteraard het die minder ervare spelers 'n bietjie gesukkel, en die OP Olifante het die halftydtelling van 28 - 7 tot binne vier punte van die eindtelling laat kom. Maar dit het my glad nie ontsenu nie. Ek het uit dié opwarming gekry wat ek wou."
'n Goeie vertoning teen Boland sal nie net die span se selfvertroue versterk nie, maar hulle ook voorberei vir hul tuiswedstryd teen die Pumas oor twee weke.
Meyer beklemtoon dat wedstrydfiksheid vir hom ononderhandelbaar is en dat die span nog aan diepte in 'n paar posisies werk.
"Ons samespel moet verbeter, en ons fiksheidsvlakke is nog nie waar dit moet wees nie. Maar met die regte werk en toewyding is ek vol vertroue dat hierdie span sy beste rugby nog gaan uithaal en wys."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’