GEORGE NUUS - Die SWD Arende se veggees én die onge-looflike ondersteuning van die plaaslike toeskouers was die twee uitstaande kenmerke van dié rugbykragmeting verlede Vrydag-aand op Outeniquapark.
Só gesels Heyneke Meyer, hoofafrigter, oor sy span se eerste wedstryd, wat hulle naelskraap met 26 - 28 teen die kampioen, die Pumas, verloor het.
Met rustyd het die Arende met 19 - 7 voorgeloop, en dit het gelyk asof 'n groot opskudding op hande was. Meyer sê hy sal nooit tevrede wees met 'n verloor nie, maar hy is trots op wat die manne op die veld vermag het. "Om teen 'n span van die gehalte van die Pumas vier drieë te druk, wil gedoen wees."
'n Geel kaart net ná rustyd het nie juis sake vir die tuisspan vergemaklik nie en het die Pumas in staat gestel om twee vinnige drieë te druk. Hulle het uiteindelik vier drieë gedruk.
Meyer sê die Arende was tot aan die einde binne trefafstand en het nie toegelaat dat die Pumas beheer neem en met die wedstryd weghardloop nie. "Die manne het tot die einde bly veg en hul alles gegee.
"Die Pumas is bekend vir hul dryfdrieë, maar teen ons kon hulle dit nie regkry nie. Ons drieë het van goeie dryfbewegings af gekom," sê Meyer.
Hy het ook die Arende se skrumwerk en taktiese skopwerk geloof.
"Ons samespel kan nog baie verbeter, maar mens moet in ag neem dit was ons eerste amptelike wedstryd met 'n klomp nuwe manne wat mekaar nog moet vind. Ons het op verdediging gefouteer en sal hard daaraan moet werk om dit op te skerp."
Meyer is egter heel tevrede met dié eerste poging. Hy sê dit was 'n goeie kragmeting teen 'n baie sterk span wat al lank saam speel.
Die slegte nuus is dat die heelagter, Andell Laubscher, sy boarmspier (bisep) geskeur het en 'n operasie moes ondergaan. "Hy sal vir 'n hele ruk buite aksie wees, en dis jammer." sê Meyer. "Ons gaan hom op heelagter mis."
Beide die spelers en Meyer het beklemtoon hoe belangrik die ondersteuning van die tuisskare vir hulle was. "Ek wil elkeen bedank, en die spelers voel net so sterk daaroor.
"Hul teenwoordigheid het 'n positiwiteit onder die manne gebring en hulle gehelp om enduit te veg - ook vir die toeskouers. Dit was heerlik om die kinders op die veld te sien op soek na handtekeninge van die spelers. Dit beteken vir ons regtig baie."
Hy sê mense loop hom oral in George raak en vertel dat hulle hul vriende en familie na die Arende se volgende wedstryd gaan bring. Van die mense wou selfs weet waar hulle Arende-klere kan koop. "Dit maak mens ongelooflik dankbaar vir dié belangstelling."
Die Arende speel Saterdagmiddag weg teen Grens, en Meyer sê hulle wil dieselfde motivering as teen die Pumas saamneem na die veld.
SWD Arende se Keanu Vers (regs) Andrew Kota bots mid-lug terwyl hulle meeding om balbesit tydens 'n harde aanslag in die wedstryd.
Die SWD Arende het nie ’n maklike wedstryd gehad nie, maar hulle het stukke beter as verlede jaar teen die Pumas gevaar.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’