TUINROETE NUUS - Die SWD Arende gaan Saterdag op Mosselbaai noodgedwonge 'n paar klubspelers in sy opwarmwedstryd teen die Griekwas moet inspan aangesien verskeie van sy eerstekeusespelers nog op die krukkelys is.
Onder hulle is manne wat al vir die Arende uitgedraf het, die oud-Bok Davon Raubenheimer en Freginald Africa, en twee betreklike nuwelinge, JP Duvenhage en Rynhard Steers. Duvenhage het verlede jaar nog vir die Kwaggas op senter uitgeblink en Steers was die SWD o.20-span se voorslag-haker.
Rynhardt van As, hoofafrigter van die Arende, het aan die George Herald gesê hy wil graag die nuwe manne speelkans gee teen die Griekwas, wat in die Curriebeker-reeks meeding.
Hy reken die besoekers gaan die Arende in alle fasette deeglik toets.
"Die feit dat ons laaste opwarmwedstryd teen die Westelike Provinsie op 20 Januarie was, gaan ons taak bemoeilik.
Teen die WP is talle gebreke in ons spel uitgewys en hoewel ons hard daaraan gewerk het om ons skerpheid en fiksheid op te knap, is dit wedstrydtyd wat ons kortkom.
Ons het eenvoudig nie genoeg reserwe spelers, soos die groter unies, om twee opponerende spanne teen mekaar te laat oefen nie.
"Ek is nietemin bly vir die geleentheid om opnuut te kyk na ons wedstrydpatrone in 'n druksituasie. Ons het baie tyd bestee aan ons verdedingspatrone, spel by die afbreekpunte en ons spelstrukture. Die groot toets lê nou by die suksesvolle toepassing daarvan."
Van As glo ook die Griekwa-stryd is ideale voorbereiding vir die Arende se eerste ligawedstryd op 28 April.
"Ons het nou nog tyd om ná Saterdag te skaaf aan ons spel en foute reg te stel voor die Eersteliga begin. Ons hooffokus gaan wel op hardloopkondisionering wees."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'