RUGBY NUUS - Ná ses oorwinnings agtereenvolgens, is die Arende-rugbyspan van die Suidwestelike Distrikte (SWD) steeds stewig op koers om te kwalifiseer vir tuishalfeindstryde in beide die eerste divisie van die Curriebeker- én Mzansi-reekse.
Die Arende het die afgelope Vrydag op Outeniqua Park daarvan seker gemaak dat hulle nou met 33 punte die eerste posisie op die punteleer van die Curriebeker-reeks beklee ná hulle die Grens Bulldogs met 47-25 kafgedraf is.
Die Arende is ook in die Mzansi-reeks aan die bopunt van die punteleer met 'n voltal van 30 punte ná ses wedstryde.
Vir die hoofafrigter, Anton Moolman, was dit veral verblydend dat sy span reeds voor die rustyd seker gemaak het van die bonuspunt-drie. "Dit het my die vryheid gegee om in die tweede helfte bietjie meer te eksperimenteer en veral vir van die jonger outjies in die span broodnodige speeltyd te gee," het hy gesê.
Volgens Moolman het sy span 'n baie meer kliniese vertoning gelewer as wat die geval was die vorige week toe die Arende op Olënpark in Potchefstroom tot aan die einde moes veg om die Luiperds van Noordwes uiteindelik in beseringstyd met 33-25 te bêre.
"Die spelers het beslis hul spelpeil gelig en waar ons teen die Luiperds vir 40 minute goed gekombineer het, het ons teen die Bulldogs dit vir 60 minute gedoen. Versagtend moet 'n mens egter ook aanvaar wanneer daar veranderings gemaak word, sal daar 'n insinking wees, maar in die algemeen is ek baie tevrede met dít waarmee die span teen die Bulldogs vorendag gekom het. Ons het ook 'n klompie meelewende ondersteuners gehad en dit tel ook baie punte wanneer 'n span ordentlik ondersteun word," het hy gesê.
Moolman sê hy was beïndruk met die spel van die 21-jarige buitesenter, Clive Kruger, wat ook as Speler van die Wedstryd aangewys is.
"Adriaan van der Bank (losskakel), Ruben Cronjé (nommer 5-slot), Janneman Stander (kaptein en nommer 7-flank) en Deon Carstens (skrumskakel) het ook meer as hulle deel bygedra," het die afrigter gesê.
Die Arende se laaste kragmeting in die rondomtalie-fase van die Curriebeker-reeks is op Donderdag, 18 Mei, teen die Boland Kavaliers. In dié stadium is dit nog onseker waar dié wedstryd sal plaasvind, maar Moolman is daarvan oortuig dit sal op Piketberg wees.
Moolman het sy troepe vandeesweek afgegee ná ses strawwe weke agter die rug. Dié span hervat sy voorbereiding met die oog op die laaste fases van dié twee kompetisies eerskomende Maandag.
Vir die Arende het die volgende spelers punte teen die Bulldogs aangeteken:
Drieë: Kruger (2), JP Duvenhage (binnesenter), Qhama Hina (loskopstut), Carstens, Van der Bank en Sachin Toring (plaasvervanger-vleuel).
Doelskoppe: Van der Bank (4) en Marlo Weich (heelagter, 2).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’