RUGBY NUUS - Dis nie alle rugbyspelers wat die voorreg het om vir die internasionale Barbarians uit draf nie. Iemand wat dit wel al gedoen het en sommer vier keer, is Armand (Akker) van der Merwe wat oorspronklik van George kom.
Toe hy onlangs hier by sy familie kom kuier het, het hy 'n draai gemaak by Hoërskool Outeniqua waar hy 'n klompie jare gelede op skool was.
Tydens sy besoek het hy 'n geskenk vir die skool saamgevat, 'n Barbarian-trui. Hy het dit oorhandig aan Christo Vorster, die skoolhoof en Piet Cloete, adjunkhoof: sport.
Van der Merwe het al voorheen ook in drie toetse vir die Springbokke uitgedraf en speel op die oomblik vir die Sale Sharks, in Manchester, Engeland.
Van der Merwe en sy jonger broer, Duhan, het noue bande met George. Duhan speel op die oomblik vir onder meer Skotland en het verlede jaar saam met die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika getoer. Duhan was ook by Hoërskool Outeniqua en het sy skoolloopbaan daar in 2013 voltooi.
Die Van der Merwe-broers se ouers, Alhan en Dulene van der Merwe en hul suster, Simoné woon steeds in George. Simoné en Duhan is 'n tweeling.
Cloete het Maandag gesê die skool is baie trots op die Van der Merwe-broers en is baie dankbaar vir die trui.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'