Gallery
ROLBAL NUUS - Die mansveterane rolbaltoernooi het verlede Vrydag 'n opwindende hoogtepunt bereik toe die wenners van die rooi en blou seksies vir die goue en silwermedaljes meegeding het.
Die eindstryd Vrydagmiddag was gelaai met aksie en spanning toe die Westelike Provinsie in 'n naelbytoorwinning die eerste plek behaal het. Eden is die naaswenners en die bronswenners is die spanne van Gauteng-Noord en Johannesburg.
Die week lange toernooi het vanaf 6 tot 10 Maart, in George plaasgevind. Beide Outeniqua- en George-rolbaanbane is vir hierdie geleentheid ingespan. Sameroeper George Fick het verduidelik dat elke seksie se 10 spanne teen mekaar gespeel het.
Die toernooi is daagliks regstreeks op YouTube uitgesaai en het elke dag met 'n braai geëindig waar die dag se spel bespreek is. "Ou vriendskappe is weer gevind en nuwes is gemaak. Die spelers het dit baie geniet en praat reeds oor volgende jaar se toernooi," het Fick gesê.
George-burgemeester Leon van Wyk het verlede Vrydag 'n draai gaan maak en spelers tydens die prysuitdelingsfunksie toegespreek. Van Wyk het opgemerk hoe lekker dit is om so 'n jolige gees te ervaar en gepraat oor die enorme ekonomiese hupstoot wat so 'n toernooi tot gevolg het.
FOTOGALERY: Mansveterane rolbaltoernooi op George
Henk Barnard, president van Eden-rolbal, het die wenspan gelukgewens, "Dit was 'n wonderlike wedstryd, ek het elke oomblik geniet. Julle het ons beslis vermaak met jul vaardigheid en veggees."
Die toernooi het geëindig met 'n vlagseremonie waartydens die nasionale volkslied gespeel is.
Agter die baan
Die toernooi-komitee het bestaan uit Greg Young (president van Outeniqua-rolbalklub), Owen Calverley, Roelof van Milligen, Vlam Basson, Dalene Fick en George Fick (sameroeper). Verskeie subkomitees en beamptes was ook betrokke wat onder andere etes, koffie en beskuit moes bedien. Daar was beamptes wat punte moes verwerk en skeidsregters om seker te maak alles verloop volgens reëls.
Fick bedank almal wat deel was van die proses om die toernooi 'n groot sukses te maak.
Die toernooi se hoofborg was Perfect Delivery. Ander borge sluit in Aweh Sport, Rendezvous Restaurant, Personal Trust, Louis57 Wines, Ricoh, KWV Brandy en George Herald.
Die toernooi was daagliks regstreeks op YouTube uitgesaai, wat dit vir familie en vriende van spelers moontlik gemaak het om die spel te volg. Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’