GEORGE ROLBALNUUS - Twee van die gewildste kompetisies wat gedurende 2019 oor 'n tydperk van 11 maande by George-rolbalklub gespeel is het in 'n hoogtepunt geëindig toe die algehele wenners van die jaar bekroon is.
Die kompetisies, bekend as die 2-4-2 Pare en die George Sewes, is maandeliks vanaf Januarie tot November gespeel. Albei hierdie bepalings is deur Akker van der Merwe gereël en aangebied, bygestaan deur sy span helpers wat met die trekking en verwerking van die resultate gehelp het.
Benewens spelers van die tuisklub het spelers van omliggende klubs elke maand na George gereis om aan hierdie baie gewilde kompetisies deel te neem.
Die 2-4-2 Pare kompetisie is op elke derde Dinsdagoggend van die maand gespeel en die spanne is elke keer getrek sodat spelers telkens met 'n ander maat gespeel het.
Elke speler het sy of haar telling oorgedra en die speler met die meeste punte is as die uiteindelike wenner van die jaar aangewys.
Die wenner van 2019 is Wendy Murray met Johan Fernhout van Oudtshoorn in die tweede plek. Petro Breedt was derde.
Akker van der Merwe en Johan Fernhout, naaswenner van die 2-4-2.
Op dieselfde Dinsdag van die maand is die George Sewes in die middag gespeel. Hierdie kompetisie het bestaan uit ingeskrewe gemengde spanne van vier en is goed ondersteun deur spanne van omliggende klubs en 'n span van die Rolbal Nomads.
Die spanne is verdeel in twee groepe en het onder die naam van Stormers en Bulls gespeel. Tot die vreugde van die stoere Stormers-rugbyondersteuners, het die Stormers-span van Johan Fernhout met Charlotte Fernhout, Lorraine van Vollenstee en Ian Cochrane (almal Oudtshoorn) as die algehele wenners van 2019 uit die stryd getree.
Nog 'n Stormers-span van George met Edith Spence, Lynne Alexander en Tys en Marthie Pringle het as naaswenners uit die stryd getree. Die Bulls-span van Vista en Groot-Brak met Tish en Chris Hockney, Hannes Bruwer en Tom Strydom was derde.
Akker van der Merwe en Wendy Murray, die wenner van die 2-4-2,
Tys en Marthie Pringle, Lynne Alexander en Edith Spence, die Stormers-span en naaswenners van die George Sewes.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'