GEORGE NUUS - Speke word blink gevryf, potjies word afgestof en almal is in rep en roer by Laerskool Blanco ter voorbereiding van die jaarlikse Oubos MTB-marathon wat hierdie jaar op 24 Februarie plaasvind.
Hierdie bergfietsresies is 'n tradisie wat vir meer as 20 jaar al deur die ouers, onderwysers en leerders van Laerskool Blanco aangebied word en is 'n prettige geleentheid vir oud en jonk. Die roetes neem die deelnemers deur die pragtige natuurskoon van die omringende berge en op paadjies deur privaat plase wat slegs vir hierdie resies beskikbaar gestel word.
Om almal te akkommodeer, is daar afstande van 10 km, 25 km, 50 km en 75 km by die bergfietsresies. Kontantpryse word aan die eerste drie plekke van elke resies toegeken. Vir diegene wat nie van fietsry hou nie, is daar ook 'n gesinstap van 5 km.
Terwyl die atlete swoeg en sweet op hulle fietse, staan die organiseerders reg met 'n verskeidenheid van eet- en drinkgoed. Die hoogtepunt van die bedrywighede is beslis die tradisionele potjiekoskompetisie waarby die hele skool betrokke is.
Elke graad in die skool spog met sy eie unieke stalletjie en 'n potjie wat noukeurig voorberei word.
En terwyl almal smul aan al die lekkernye beskikbaar, kan hulle luister na die troebadoer stem van die geliefde plaaslike kunstenaar Michael Lindt.
'Ons bring jou die nuuste George, Tuinroete nuus'