SUID-KAAP NUUS - Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) se veldskietkompetisie is Saterdag 10 April net buite Oudtshoorn op die plaas Nooitgedag van Koos Potgieter aangebied.
Wat die teikens en skietposisies betref, was dit ‘n behoorlike allegaartjie. Aan die westekant van die een dam is daar vryhand uit ‘n staande posisie na vlakvarkteikens geskiet. Dan kon die skuts darem op die damwal van ‘n driepoot gebruik maak om uit die staande posisie na die eerste stel ghongs te skiet.
Die volgende baan was weer twee verskillende teikens waar die skut uit ‘n sittende of knielende posisie na ‘n springbok en jakkals moes skiet.
Aan die oostekant van die damme is verwag dat skuts oor motorbande uit ‘n sittende posisie na die rooibok en bobbejaan skiet en net langsaan, kon skuts uit die staande houding van ‘n stewige hout driepoot gebruik maak om na die blesbok te skiet.
Die laaste baan was letterlik ‘n perd van ‘n ander kleur. By hierdie baan moes skuts vanaf ‘n nagemaakte perd se rug vyf ghongs skiet. Selfs al het die perd doodstil gestaan, was daar gevalle waar die ghongs merkloos bly hang het.
Ten spyte van die sonbrand en uitdagende skietposisies was daar ‘n gemoedelike atmosfeer tussen die deelnemers.
Vier en sewentig skuts het in verskeie afdelings meegeding, naamlik ope-, vroue-, veterane- en juniorafdeling (seuns en meisies).
Wenners
- Ope: 1. Renier van Greunen, 2. Niaan Fourie, 3. Christo Delport.
- Vroue: 1. Junita van Zyl, 2. Ronél Marx, 3. Madelein Snell.
- Juniors: 1. Marco Marx, 2. Anke Kemp, 3. Izel Delport.
- Veterane: 1. Arthur Lilford, 2. Niël Basson, 3. Tom Theron.
Suid-Kaap Jagters bedank hiermee die hoofborg van die dag, Kobie Human en ook vir Francois Smit wat ‘n Night Furry Suppressor ter waarde van R3 400 vir die gelukstrekking geborg het. ‘n Getroue ondersteuner van SJB se skietdae, naamlik Gert van Wyk was die wenner van dié prys.
SJB bedank ook vir Koos Potgieter en sy gesin wat hul plaas beskikbaar gestel en ook vir ‘n heerlike middagete vir die skuts gesorg het. Hul gasvryheid is een van die redes hoekom hierdie skietdag een van die gewildste skietdae op die SJB kalender is.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'