GEORGE NUUS - Perdry is nie maklik nie. Vir baie mense is dit al klaar moeilik om op te klim en daar te bly.
Wat nou nog te sê van akrobatiese toertjies uithaal op 'n perd se rug. Dis mos 'n resep vir 'n gebreekte nek.
Aikôna, nie vir die 12-jarige Lila Theunissen nie. Dié talentvolle leerder van Hoërskool Outeniqua is pas ingesluit in die SA vaulting-span wat van 11 tot 12 Mei in Johannesburg aan die FEI Inter Africa Cup by Penbritte gaan deelneem.
Dit was Lila se groot droom om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig. Sy is in 2017 as die SA kampioen gekroon en het sedertdien, onder leiding van haar afrigter, Samantha Waddington, honderde ure aan haar tegniek geskaaf om haar vir internasionale mededinging voor te berei.
Lila se twee groot liefdes is gimnastiek en perdry en vaulting-kompetisies, soos dié wat nou voorlê in Johannesburg, gee aan haar die ideale geleentheid om die twee passies saam te beoefen.
Die veelsydige Lila is ook 'n provinsiale paalspringer wat by die Wes-Kaapse kampioenskappe 'n tweede plek in die o.14-ouderdomsgroep behaal het. Sy het ook die Wes-Kaap in perdry (skouspring) verteenwoordig.
Die 12-jarige Lila Theunissen is ingesluit in die Suid-Afrikaanse vaulting-span wat in Johannesburg aan die FEI Inter Africa Cup by Penbritte gaan deelneem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'