GEORGE NUUS - George skud sy vere reg vir een van die grootste sportfeeste ooit in sy bestaan, die Africa Skill George Tens wat van 14 tot 17 Desember plaasvind. Ofskoon die hoofdis rugby is, is daar vanjaar selfs hengel op die program.
Dit is vanjaar die derde keer wat die fees aangebied word. Die organiseerders verwag dat vanjaar se fees die grootste gaan wees en na verwagting gaan meer as 'n 1 000 mense deelneem.
Heyneke Meyer, dryfkrag agter die fees en een van die organiseerders, het Dinsdag 5 Desember aan George Herald gesê reëlings is op koers.
Hy het benadruk dis 'n feesgeleentheid en dit gaan om baie meer as net sport. Dis ook 'n leefstyl- en kulturele- fees. Ofskoon daar meegeding word in die verskillende sportsoorte is die uitgangspunt dat deelnemers hulself moet geniet.
Voorsiening word vanjaar soos gewoonlik weer vir 10 kode rugby (tien spelers ' n span) gemaak - mans en vroue. Daar is ook netbal, gholf, kleibaantennis, padeltennis, raakrugby op die strand, dodgeball, 'n 10 km-wedloop en 'n kleurwedloop.
Die gholf vind op 14 Desember by Oubaai plaas en bekendes soos AB de Villiers, Victor Matfield, Philip Snyman, Anton Leonard en Dick Muir gaan saam stokke swaai.
Vrydag 15 Desember word 'n rugby- en netbalafrigtingskliniek op die sportterrein van Outeniquaprk gehou. Dit sal waargeneem word deur Philip Snyman, waarnemende afrigter van die Blitzbokke en Lenize Potgieter, doelwagter van die Proteaspan. Dit is gratis.
Die rugby vind by Outeniquapark plaas en begin Saterdag 16 Desember. Spanne van oud en jong gaan deelneem. Een van die gewildste spanne, die Legends met bekende spelers van weleer, gaan weer deelneem. Die eindronde van die rugby vind die volgende dag plaas.
Ook op 16 Desember sal daar vanjaar die eerste keer hengel plaasvind. As jy lus is vir lyn natmaak, moet jy gaan aantree met jou visstok. Mans en dames kan inskryf en groot pryse kan gewen word.
Meyer het gesê die hardloop dele sal die Sondag by die stadion begin en klaarmaak.
Buiten al die sport sal daar ook kuierplekke wees waar mens kan ontspan en saans ook musiekgeleenthede kan bywoon waar bekende kunstenaars gaan optree.
Heyneke Meyer, dryfkrag agter die Tens en Philip Snyman, waarnemende afrigter van die Blitzbokke.
Deelnemers aan die sport sal met hul deelnemerskaartjies toegang tot die ander geleenthede ontvang.
Volgens Meyer beteken die fees baie vir George. Terugvoering wat hy ontvang is, is dat talle akkommodasieplekke reeds volbespreek is.
Hy het gesê die fees word aangebied want hy glo sport maak 'n verskil aan mense se lewens.
As daar beurtkrag is, is planne in plek om seker te maak dat die fees voortgaan.
Mense kan nog inskryf. Belangstellendes kan Juanita da Matta bel by 071 457 2696.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’