SPORT NUUS - Skermers van Eden-skerm wat die Suid-Kaapstreek gaan verteenwoordig by die Kaapse ope nasionale kompetisie van 9 tot 11 Desember oefen tans hard.
Dit is die laaste geleentheid om te kwalifiseer vir die Junior Afrika Kampioenskappe wat teen einde Februarie 2023 in Ghana plaasvind.
Britney Adonis het reeds haar plek in die span verseker met haar tweede plek op die nasionale ranglys, en dit terwyl sy slegs 17 jaar oud is. Haar doelwit is om die nommer 1 posisie agter haar naam te skryf.
Herschelle Appels het gedurende die pandemie weer die swaard opgeneem in 'n poging om die druk om by 'n bende aan te sluit, te omseil. In slegs drie kompetisies het hy van 32ste plek op die nasionale ranglys, opgeskuif na 5de plek.
Ten einde te kwalifiseer vir Ghana, moet hy in die topvier nasionaal lê.
Hulle afrigter, Susan Agrella, sê ter voorbereiding het Britney en Herschelle deur die afgelope eksamen daagliks (ook Saterdae) geoefen, en in lokale sonder elektrisiteit.
"Hulle toewyding en doelgerigtheid is 'n groot rede vir hulle sukses en 'n wonderlike motivering vir hulle gemeenskap. Britney is 'n rolmodel vir oud en jonk en 'n bewys dat 'n mens bo jou omstandighede kan uitstyg."
Sy sê die finansiering om deel te neem aan die kompetisies wat landwyd in Kaapstad, Durban, Polokwane, Bloemfontein en nog vele ander plekke aangebied word, bly 'n groot uitdaging.
"Sonder die hulp en bystand van die mense in George, sou hulle nie kon bereik wat hulle al bereik het nie. Die verskil wat in hierdie twee jongmense se lewens, en by implikasie die wyer gemeenskap gemaak word, kan nie bereken word nie. Elke bydrae word met groot dankbaarheid ontvang," sê Agrella.
Enigiemand wat 'n bydrae wil maak tot die twee kinders se uitgawes, kan Susan Agrella kontak by 082 717 7924 of susanagrella@gmail.com. Die kinders is deel van Seven Passes Initiative se programme vir die jeug.
Britney Adonis en Herschelle Appels.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'