WES-KAAP NUUS - Vir Wes-Kapenaars knel die droogte nog, maar vir Suid-Afrikaanse fietsry was daar die afgelope naweek groot uitkoms. Twee bobaasfietsryers het vir dubbele vreugde gesorg.
Daryl Impey het die grootste oorwinning van sy loopbaan behaal toe hy Sondag die Tour Down Under in Australië gewen het.
En Saterdag, 'n dag vroeër, het die Georgiet Matthys Beukes in die gedugte Momentum Health Attakwas Extreme geseëvier.
Die wedren oor 121 km word as die taaiste eendagwedren in Suid-Afrika beskou met die ondraaglike hitte en uitdagende rytoestande wat bomenselike eise aan jaers stel.
Beukes se wentyd was 4 uur 56 minute 56 sekondes, 'n skaflike nege minute vinniger as die tyd van een van die groot gunstelinge, die Duitser Tim Bohme. Beukes se spanmaat van PYGA Euro Steel, Philip Buys, was derde in 5:12:13.
Met sy oorwinning het Beukes Suid-Afrikaners se droogte in die wedren gebreek. Dis die einste Beukes wat in 2012 die laaste Suid-Afrikaner was om eerste oor die eindstreep te jaag.
Vanjaar se Attakwas was die natste in die twaalfjarige bestaan van die wedren en het rytoestande, veral voor die jaers die Attakwaskloof-natuurreservaat binnegery het, aansienlik vergemaklik.
Beukes het in 'n onderhoud aan die George Herald gesê dié sege is 'n goeie afskop vir die seisoen wat voorlê en sal hom 'n groot sielkundige hupstoot voor die Cape Epic gee.
Drie stalmaats, Beukes, Buys en Gert Heyns, het van meet af aan die pas dik aangemaak en die grootste gros jaers gou afgeskud. Beukes sê veral hy en Buys het met bekwame spoed vooruitgejaag met die wedrenrekord van 4 uur 47 minute 46 sekondes, wat Urs Huber opgestel het, in hul visier. Hy sê Heyns het hulle goed ondersteun, maar Buys het uitgesak toe hulle om die Koning van die Berge-prys meegeding het.
Heyns was eerste oor die piek van die Attakwas, maar het kort daarna 'n papwiel gekry. Beukes was toe op homself aangewese om van die halfpadmerk af op sy eie voor te jaag.
"Gelukkig het ek 'n goeie ritme gehandhaaf en kon ek enduit dié pas volhou." Beukes sê die laaste 60 km was nogal uitdagend, "want dit het gevoel of my fietswiele aan die nat grond vassuig."
Heyns kon nooit opvang nie en het in die tiende plek klaargemaak.
Buys was by die 85 km-merk nog in die tweede plek, maar toe het Bohme hom ingehaal. Dié twee het vir 'n ruk mooi saamgewerk, maar toe het die Duitser onder hom uitgery vir sy tweede plek op die podium.
Die wenner van die Momentum Health Attakwas Extreme, Matthys Beukes, in aksie. Foto: Zoon Cronje
ARTIKEL: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD-SPORTREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'