GEORGE NUUS - Ofskoon dit in die breë verwelkom word dat toeskouers nou weer by skolesport toegelaat kan word, is daar ook kommer.
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys het Vrydag 22 Oktober in die Staatskoerant aangekondig dat toeskouers nou weer by skole se sport-, kuns- en kultuurgeleenthede toegelaat kan word as daar aan sekere vereistes voldoen word.
Dit sluit die handhawing van gesonde afstande, die dra van gesigsmaskers en die was van hande in.
Vroeër vanjaar kon skolesport vir 'n rukkie plaasvind, maar toe is geen toeskouers toegelaat nie.
Basil Manuel, besturende direkteur van die onderwysersvakbond, Naptosa, het Maandag aan George Herald gesê die instansie is ten gunste van toeskouers. Hy het egter benadruk die nuwe regulasies maak voorsiening vir groot getalle wat dit basies onmoontlik maak om te bestuur.
Manuel het 'n beroep op skoolhoofde gedoen om self die getalle toeskouers te bepaal binne die Covid-19-protokolle, sodat dit bestuur kan word.
Piet Cloete, adjunkhoof sport van Hoërskool Outeniqua, het gesê die skool sal baie graag weer toeskouers wil verwelkom. "Geen sportgeleentheid is dieselfde sonder toeskouers nie. Die reëls en voorskrifte soos bepaal deur die departement van basiese onderwys sal egter streng nagekom en toegepas word.
"Ons is baie opgewonde oor die aankondiging. Toeskouers wat bestaan uit deelnemers, ander leerders, ouers, familie en oudleerders speel 'n groot rol om 'n sekere atmosfeer op die terrein te skep. Sonder hulle is dit maar doodstil by enige byeenkoms. Vir baie skole is sulke sportbyeenkomste ook 'n manier om geld in te samel wat weer teruggeploeg kan word in die opvoeding van leerders."
Planne is reeds in die pyplyn om 'n groot sportgeleentheid aanstaande jaar aan te bied. "Ons bied volgende jaar weer die Kwagga Junior Rugbyweek aan vanaf 25 tot 30 Maart 2022. Vier en dertig spanne van oor die land het reeds ingeskryf."
Sas du Plessis, hoof van die Laerskool George-Suid, het gesê die skool het die Covid-19-protokolle in plek om dit kan hanteer. Dit bly die ouer/toeskouer se verantwoordelikheid om die veiligheid van hulself en die mense rondom hulle, te verseker.
Die nuwe verwikkeling sal gees aanwakker en die ouers help om mekaar beter te leer ken.
'n Woordvoerder van Heidedal Primêr wat verantwoordelik is vir sport by die skool, het gesê hulle laat hul lei deur die riglyne van die Wes-Kaapse departement van onderwys. As dit voorsiening maak vir toeskouers sal Covid-19-protokolle streng gevolg word.
Die skool verwelkom dit dat toeskouers toegelaat kan word. As die protokolle nie gevolg word nie, sal toeskouers/ouers nie toegelaat word om dit by te woon nie.
Gerhard Ackerman, hoof van die Laerskool Blanco, het gesê die skool gaan in die stadium nie toeskouers toelaat nie. Die skool wil eers 'n werkbare en veilige plan uitwerk om te kyk hoe dit bestuur kan word voordat 'n besluit geneem word.
Hennie Koegelenberg, hoof van Van Kervel Vaardigheidskool het gesê sport sal eers in volle gang wees by die skool aan die begin van 2022. Afhangende van die situasie in daardie stadium, sal daar dan gekyk word of toeskouers geakkommodeer kan word.
Gerhard Ackerman
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'