RUGBYNUUS - Die uitbreek van die Covid-19-pandemie het rugby, loshande die gewildste sport in die Suid-Kaap, op sy kop gekeer.
Soos by al die ander rugbyunies in Suid-Afrika het alle aktiwiteite in die SWD ook tot stilstand geknars.
Hennie Baartman, president van die SWD-rugbyunie, het in 'n onderhoud met George Herald gesê niemand kan nou al sê hoe die volgende paar maande gaan ontwikkel nie. "As ons geweet het hoe lank die krisis nog gaan duur, kan mens onverpoos werk aan planne om rugby weer aan die gang te kry."
Baartman het die sluier gelig oor die unie se finansiële posisie en gesê kostebesnoeiings en kleiner salarisse vir gekontrakteerde spelers en alle werknemers by die SWD is deel van die planne om die boeke te laat klop.
Subsidies gesny
Die SWD het weer vanjaar 'n subsidie van R12 miljoen van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) vir sy bedryfsuitgawes en rugbyverwante bedrywighede ontvang.
"Saru het sy bydrae tot einde April getrou nagekom, maar die inpak van Covid-19 het hulle genoop om dié oorblywende bedrag van Mei tot Junie met 36% in te kort. Indien daar geen verdere rugby ná Junie gespeel word nie, sal die geld wat oorbly met 55% gesny word," het Baartman gesê.
Dié drastiese inkorting het die SWD met geen ander keuse gelaat as om die salarisse van sy werknemers ook te sny nie. "Werknemers wat meer as R20 000 per maand verdien - en daar is net drie - se salarisse sal met ingang Mei met 35% ingekort word. Dit sal geld vir twee maande waarna die situasie weer hersien sal word."Baartman sê bestuurslede van die unie het eweneens vrywillig besluit om 35% van hul toelaes af te staan. "Met die dat daar nou geen rugbytoer-nooie soos die Cravenweek plaasvind nie, sal heelwat geld op reis- en verblyfkostes bespaar word. Skeidsregters word ook nie betaal nie met klubrugby wat stilstaan."
Die unie was ook genoodsaak om die klubtoelaes, wat jaarliks aan die 63 rugbyklubs in die Suid-Kaap betaal word, met 50% te sny. Elke klub sou R12 000 ontvang het.
Nuwe kontrakte op ys
Die SWD het in die stadium slegs agt spelers vir die SWD Arende gekontrakteer, maar die proses is vir eers op ys geplaas. Daar is nog onderhandelinge met die rugbyspelersorganisasie, MyPlayers, aan die gang om te onderhandel oor besparingsplanne en sny van salarisse van hul SWD-lede.
Die ander lede van die oefengroep, hoofsaaklik klubspelers, ontvang wel 'n wedstrydfooi en die unie dra hul mediese- en alle vervoerkoste. Hier kan ook salarisaanpassings volg.
Die Arende se veldtog in die SuperSport-uitdaagreeks, wat in Februarie sou afskop, is nou geskuif na einde September, dalk eers middel Oktober. In dié stadium is die Curriebeker se Eersteliga-kompetisie vir Augustus ook in die weegskaal.
Derbies
Baartman sê die unie is proaktief besig om planne te maak wat sal verseker dat plaaslike rugbyondersteuners darem nie heeltemal droëmond sit en wag vir die pandemie om die pad te vat nie. Die moontlikheid van 'n herstrukturering van die plaaslike Superliga A-liga word bespreek en dit kan weer tot 'n reeks derby-wedstryde lei.
Slegs twee rondes klubwed-stryde uit die 22 kon voor die inperking voltooi word.
Baartman het bevestig die plan is om 'n verkorte plaaslike kompetisie te hê, maar alles sal afhang van wanneer spel weer hervat kan word. "Die ideaal sou wees om minstens 13, miskien 14 wedstryde nog vanjaar in te pas. Enigiets minder sal net nie sin maak nie."
As rugby nie teen einde September of vroeg Oktober hervat word nie, reken Baartman, sal die unie dit sterk moet oorweeg om die klubligas te kanselleer.
Hy sê hulle kyk na alternatiewe planne om die klubs se finansies 'n hupstoot te gee.
"Iets wat ons sterk oorweeg, is 'n munisipale kompetisie, waar die onderskeie dorpe in die SWD se topklubs teen mekaar gaan meeding. Oor 'n tydperk van drie maande kan 'n klomp derbies ingepas word met 'n kwart-, half- en eindstryd om die uiteindelike klubkampioen in die SWD te bepaal.
"Ons wil die beste van die situasie maak en die klubs help om meer geld te genereer. Só 'n munisipale kompetisie kan help om die seisoen sinvol af te sluit. Ons sal graag 'n kampioen wil kroon.
"In die proses sal ons nuwe lewe blaas in klubrugby, toeskouers na hul gunstelingsport laat stroom en klubs kan weer hekgeld invorder. Die plaaslike derbies sal reiskostes tussen die verskillende dorpe beperk en ook meer geld vir die klubs genereer."
Spelers oefen steeds
Intussen oefen die klub- en provinsiale spelers op eie stoom by die huis. Martin de Vos, spanbestuurder van die Arende, sê die spelers kry maandeliks 'n kondisioneringsprogram wat hulle by die huis moet volg.
Dié oefenprogram word gereeld aangepas en die spelers moet, onder andere, weekliks hul gewigte deurgee sodat 'n spesiale moniteringsisteem hulle individueel kan evalueer.
"Maar ons eerste prioriteit bly die gesondheid en veiligheid van ons spelers, ondersteuners en personeel."
Eddie Myners, hoofafrigter, sê hulle het ook pas met aanlynafrigting vir die span begin.
"Dis 'n nuutjie vir hulle, maar die spelers is heel opgewonde oor die manier van afrigting. "Ek kan ongelukkig nie van aangesig tot aangesig met die spelers praat of werk nie, maar met die beskikbaarheid van moderne komunikasiehulpmiddels is dit wel moontlik om kontak met hulle te hê. Niks klop persoonlike kontak op die oefenveld nie, maar ons sit met 'n unieke situasie en ons moet die beste van 'n slegte saak maak. Oefen moet ons oefen."
Myners sê hy maak staat op sy spelers se eerlikheid en toewyding om die aanlynoefeninge pligsgetrou te volg. "As die Curriebeker se Eersteliga afskop, moet ons nie met die broeke op die knieë gevang word nie."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'