GEORGE NUUS - Die George Tens Sport- en Leefstylfees is hier om te bly. Reëlings het reeds begin om dit weer aanstaande jaar aan te bied. Die fees het verlede Donderdag, 2 Desember, afgeskop en Sondag 5 Desember klaar-gemaak.
Toeskouers is toegelaat, maar net in beperkte getalle as gevolg van die Covid-19-situasie.
Volgens die organiseerders is die terugvoering wat hulle oor vanjaar se fees ontvang het, baie positief.
Die fees het Donderdag begin met gholf en die middag is 'n afrigtingskliniek vir jong rugbyspelers in Conville gehou. Leerlinge, onder wie ook dogters van Hoërskool George, Parkdene Sekondêr en Conville Primêr is die fynere kunsies van die spel geleer deur onder meer die oud-Springbok, Bevin Fortuin en 'n voormalige kaptein van die Blitsbokke, Philip Snyman.
Die rugby en netbal het Vrydag begin. Die finale rugbywedstryde is Sondagmiddag gespeel en nie eers reën kon die geesdrif demp nie.
Die Droogtehulpspan Sondagoggend kort voor een van hul rugbywedstryde.
Foto: Eugene Gunning
Heyneke Meyer, 'n mede-organiseerder, het na afloop van die fees aan George Herald gesê hy is baie trots om by die geleentheid betrokke te kon wees. 'n Deel van die sukses was om die glimlagte op die kinders se gesigte te sien wat lanklaas aan sport kon deelneem.
Die plan is om die geleentheid aanstaande jaar op 'n groter skaal aan te bied as daar nie beperkings is as gevolg van Covid-19-regulasies. Vanjaar was dit baie moeilik tussen Covid-19, die vloede en beurtkrag.
Hopelik sal dit in die toekoms makliker wees en meer toeskouers sal toegelaat kan word. Van die rugbyspanne wat vanjaar meegeding het, het reeds aangedui dat hulle aanstaande jaar meer spanne wil inskryf.
Ig van der Merwe, nog 'n mede-organiseerder, het Dinsdag gesê die datums vir aanstaande jaar se geleentheid sal in Januarie bekendgemaak word. Die meeste borge het reeds aangedui dat hulle weer betrokke wil wees.
Volgens hom was daar sowat 1 300 deel-nemers van oor die land. Die plan is om skole aanstaande jaar op 'n groter skaal te betrek.
Van die seuns en dogters wat die afrigtingskliniek bygewoon het.
Foto: Eugene Gunning
Die bestaande sportsoorte sal bly en daar sal gekyk word of nog anders sportsoorte ook betrek kan word.
Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies en strategiese dienste van die stadsraad, het gesê die munisipaliteit sal weer betrokke wees. Volgens hom moet die munisipaliteit belê in sulke geleenthede. Daar is groot ekonomiese voordele vir George in.
Danie Gerber, een van die bekendste Springbokke van alle tye, wat die afrigter van die een van die spanne was, het gesê hy hoop die geleentheid gaan van krag tot krag. Dit sal goed wees vir George. Tydens die fees het hy ongelooflike rugbytalent gesien.
Pellie-Canes sit koppe bymekaar tydens 'n wedstryd verlede naweek.
Foto: Ariska de Jager
Meer sulke geleenthede moet gehou word. "Hoe meer jy speel, hoe meer verbeter jou vaardighede."
Fortuin het gesê George het sulke toernooie nodig. "Om die geleentheid 'n groter sukses te maak, moet die belangrike rolspelers, SWD-rugby, die privaat sektor (soos die organiseerders) en die munisipaliteit betrokke wees."
Fortuin sal ook groter plaaslike gemeenskapsbetrokkenheid in die toekoms by die geleentheid wil sien.
Wynie Strydom, wat die rugby deel behartig het. Hier is hy Sondag toe hy sy 70ste verjaarsdag gevier het. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'