GEORGE NUUS - Sportiewes met gestremdhede vanoor die Wes-Kaap het 'n heerlike saamtrek by Rosemoor-sportterrein geniet. Die sportdag het Saterdag 3 Desember plaasgevind.
Volgens Cyril Williams, voorsitter van George Sport vir Gestremdes, was heelwat skole van die Kaapse omgewing betrokke, waaronder skole van Mitchells Plain, Eden School for Skills in Worcester en Ligstraaltjie van die Paarl.
Plaaslik het Eljada van Oudtshoorn, Carpe Diem Skool van George en lede van George Sport vir Gestremdes die dag meegemaak. Heelwat lede van DeafSA het ook aan die verrigtinge deelgeneem.
Die hooforganiseerder was Sport vir Gestremdes Wes-Kaap (Diswec). George Sport vir Gestremdes, in samewerking met Eden Sport vir Gestremdes, het plaaslik die leisels vasgehou, terwyl Garden Route Access as konsultant opgetree het om toeganklikheid vir mense met gestremdhede te verseker.
"Die sportkodes is meesal deur leerders van tussen 10 en 18 jaar beoefen en van die volwassenes het domino gespeel. Dit was ongelooflik om die land se volkslied in gebaretaal te ervaar, soos bemeester deur lede van DeafSA en vanuit ons gemeenskap," het Williams gesê.
"Ons is in so 'n kompeterende rat - ons wil net die beste van die beste wees. Hier word 'n platform geskep waar mense sport kan geniet teen hulle eie pas. Sport is vir almal."
Handevat-geleentheid
Volgens Williams is die behoefte aan ondersteuning tydens so 'n sportdag groot. "George-munisipaliteit het agteroor gebuig om die geleentheid moontlik te maak. Hulle het die veld gegee vir die geleentheid, broodjies, gazebo, stoele en hulle mobiele toilette. Dit was 'n handevat-geleentheid."
Williams het verduidelik dat die sportdag ook gedien het as bewusmaking vir mense met gestremdhede en om sommer net lekker saam te kuier.
"Dit was 'n loslitdag, om mense te bemagtig. Ons kom so min bymekaar. Behalwe die OCC is daar nie veel ander geleenthede nie," het hy gesê.
Die sportkodes wat beoefen is sluit in gholf, krieket, toutrek, minikrieket, domino en netbal.
"Suid-Afrika is volgende jaar die gasheer vir die netbalwêreldbeker. Dis belangrik dat ons mense blootstelling gee aan paralimpiese sportsoorte," het Williams gesê.
Blinde atlete van George Sport vir Gestremdes kry 'n kans om saam te ontspan. Foto's: Cyril Williams
Leerders van Eljada in Oudtshoorn en Eden School of Skills in Worcester pak mekaar met mini-krieket.
Plaaslike gholfspelers van Carpe Diem Skool.
George-speaker Sean Snyman aan die woord.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'