GEORGE NUUS - Aan die einde van die wintersportseisoen kyk Hoërskool Outeniqua terug op nog 'n uitblinkjaar op die onderskeie sportvelde.
Die skool het hierdie jaar uitsonderlik presteer op veral rugby- en netbalgebied waar daar teen van die beste skole in die land meegeding is.
Altesaam 23 van die skool se seuns het aan die Cravenweek, Akademieweek en Grant Khomo o.16-week deelgeneem.
Dan is daar ook 23 dogters gekies om SWD te verteenwoordig waarvan nege van hulle vir die Wes-Kaapspan gekies is. Michelle Groves is ook in die SA skole o.17-netbalspan opgeneem.
Die eerste rugbyspan eindig hierdie jaar in die top-15-skole (nr. 14) in SA ná uitstekende oorwinnings oor onder andere Brackenfell, Noord-Kaap, HTS Drostdy, Oakdale, Durbanville, Framesby en Paarl Gimnasium.
Die o.15A-rugbyspan eindig hierdie jaar nr. 2 in SA ná puik oorwinnings oor onder andere Boland Landbou, Grey High, Rondebosch Boys High, HTS Drostdy, Stellenberg, Paarl Boys High, Framesby, Noord-Kaap en Oakdale.
Die eerste rugbyspan van die Kwaggas wat die 14de plek op die nasionale ranglys ingeneem het.
Die o.14A-rugbyspan eindig hierdie jaar nr. 4 in SA ná puik seges oor spanne soos Boland Landbou, Garsfontein, Affies, Menlopark, Stellenberg, HTS Drostdy, Framesby, Noord-Kaap en Paarl Gimnasium.
Op die gesamentlike rugbyranglys van 'SA School Sport' word Outeniqua se rugbyspanne gegradeer as een van die Top-10-rugbyskole (nr. 9) in SA.
Dit is voorwaar 'n prestasie waarop die Kwaggas baie trots kan wees.
Outeniqua se eerste netbalspan word ook gereken as een van die top-15-netbalspanne in SA. Hulle eindig 12de op 'School of Netball' se ranglys en behaal puik oorwinnings oor onder andere Stellenberg en Paarl Gimnasium.
Al hierdie spanne is ook die SWD-kampioene vir 2017.
Die sukses van hierdie spanne word toegeskryf aan toegewyde afrigters en leerders.
Die skool beskik ook oor puik geriewe soos 'n volledig toegeruste gimnasium wat bestuur word deur twee biokinetici en twee sportwetenskaplikes.
Baie aandag word gegee aan kondisionering, maar ook aan vaardighede. En hier speel rugbyspesialiste soos Henry Grimes (lynstane), Ian Hattingh (skrums), Rynard van As (skoppe) en Jeandré Blom (verdediging), wat deel van die Kwaggas se afrigterskorps is, 'n groot rol.
Outeniqua se eerste netbalspan wat die 12de plek op die nasionale ranglys beklee.
Die skool is ook baie trots op die Kwagga-bergfietsspan. Onlangs het ses ryers van die skoolspan by Magaliesburg in die Noord-Wes Provinsie aan die Spur Nasionale Bergfietswedren deelgeneem.
Ten spyte van 'n nat en glibberige baan, het die ryers hulle uitstekend van hulle taak gekwyt.
Die lede van die Kwaggas se suksesvolle bergfietsspan. Van links is Sorina Venter, Leonora du Preez, Adriaan Venter, Tristan Nortje, Britney Wilmans en Zandré Gerber.
Die span het 'n algehele 15de plek in die nasionale kompetisie ingeneem wat 'n reuseprestasie is.
Die dogters het 'n 15de plek en die seuns 'n 19de plek losgetrap.
Die tweede dag het die ryers as provinsiale spanne deelgeneem en ses van die plaaslike ryers is in die Wes-Kaapse span opgeneem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'