GEORGE HOKKIE-NUUS - Nieteenstaande Covid-19 en al die uitdagings wat dit vir sport inhou het Laerskool Outeniqua op Saterdag 21 Augustus 'n hokkietoernooi vir o. 13-seuns en -dogters gehou. Skolehokkie het twee jaar laas plaasgevind.
Die vier skole wat deelgeneem het, was Laerskool Outeniqua, Laerskool Wesbank, Laerskool George-Suid en Holy Cross Primary.
"Al was die velde nat na die reën was dit verblydend om die kinders weer met groot glimlagte op die veld te sien. Sport speel 'n groot rol in die ontwikkeling van alle kinders en deelname daaraan dra by tot die positiewe ontwikkeling van leerders.
"Laerskool Outeniqua is op die voorgrond om wedstryde (wat sonder toeskouers moet plaasvind) deur middel van YouTube aan die ouers en gemeenskap te bring," het André du Preez, die sportadministrateur en opvoeder van die skool gesê.
Leerders sien nou uit na krieket en atletiek in die vierde kwartaal.
Cobus Immelman van Laerskool Outeniqua dryf die bal met Daniël van Zyl in die agtergrond wat 'n ogie hou tydens die o. 13 A-span se wedstryd teen George-Suid A.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'