Dit was die laaste kompetisie in 'n reeks van drie wat sedert verlede Oktober plaasgevind het.
Medaljes is gewen deur Mari Folscher (eerste plek kadet dames florette; goue medalje junior dames florette; tweede plek senior dames florette), Rouxbert Louw (bronsmedalje kadet mans epeé) en Susan Agrella (Goud Senior Dames Florette en Goud Se-nior Dames Epeé).
Twee van die klub se nuwelinge, Juan Barnard en Louis Marais (albei van Punt HS in Mosselbaai) het hulle besonder goed van hul taak gekwyt in die kadet en junior mans epeé en 'n hele paar oorwinnings aangeteken. Louis het gekwalifiseer vir die uitdunrondtes en gevorder tot die kwarteindrondte.
Albei het maar 'n paar maande gelede begin skerm en slegs twee maande gelede begin met epeé.
Ook Rouxbert Louw het sommer in sy eerste toernooi in die epeé-kategorie reeds 'n medalje losgeskerm.
Albert Nothnagel het hom ook goed van sy taak gekwyt in die junior en senior florette-afdeling en het onderskeidelik sesde en sewende geëindig uit 'n groep van 18. Dit is merkwaardig as in ag geneem word dat die eerste vyf skermers in die junior en senior groep almal onlangs in Rusland aan die Junior Wêreldkampioenskappe deelgeneem het.
Die medaljes wat uitgedeel is, is gemaak deur 'n plaaslike kunstenaar wat dit uit draad en glaskrale gemaak het. Dit het bestaan uit 'n sirkel met 'n blaar in die middel en het baie positiewe kommentaar ontlok. Daar is nou sprake dat die kunstenaar, Victor Mbatha, die medaljes vir volgende jaar se internasionale All Africa Challenge in Kaapstad sal maak.
Die hoogtepunt van die Wes-Kaapse streekkalender vind in Augustus in Kaapstad plaas tydens die Wes-Kaapse Kampioenskappe waar dan ook streek- en provinsiale kleure toegeken word.
Skermers van so jonk as agt jaar is reeds besig om hard te oefen by die klub. Oefentye is van 14:30 tot 15:15 vir die junior groep, en 15:15 tot 17:00 op Dinsdae en Donderdae by die Voortrekkersaal in George.
Van die skermers wat uitstekend gevaar het, is van links Susan Agrella, Juan Barnard, Mari Folscher, Albert Nothnagel, Louis Marais en Rouxbert Louw.
Van die skermers wat uitstekend gevaar het, is van links Susan Agrella, Juan Barnard, Mari Folscher, Albert Nothnagel, Louis Marais en Rouxbert Louw.