GEORGE NUUS - Die kunstenaars by Woensdag 14 Oktober se etensuurkonsert in die Moederkerk is die Carpe Diem-skool se koor en marimba-orkes. Die konsert vind van 13:00 tot 14:00 plaas en toegang is gratis.
Carpe Diem-skool bied onderrig en ondersteuning aan leerders met uiteenlopende spesiale onderwysbehoeftes.
Musiek speel ’n besondere rol in die skool en die koor en orkes bewys dat, wanneer leerders die regte geleenthede, ondersteuning en aanpassings kry, hulle hul talente met selfvertroue kan ontwikkel en met groot vreugde met ander deel.
Die Carpe Diem-skoolkoor word afgerig deur Alethea Steyn, Marissa Ramage en Helene Ramage. Die koor het oor die jare met groot entoesiasme aan verskeie optredes en geleenthede deelgeneem en is onlangs by die South Cape Arts Festival 2026 as beste vokale ensemble aangewys.
Die Carpe Diem-marimba-orkes word afgerig deur Hilde Gordon, wat ’n lang verbintenis met die Marimba Education Foundation (MEF) het. In 2022 het Carpe Diem, as deel van ’n MEF-projek, spesiaal aangepaste marimbas ontvang.
Die instrumente is deur African Musical Instruments (AMI) spesiaal aangepas om deelname vir leerders met spesiale behoeftes meer toeganklik te maak.
Die klawerborde van die marimbas kan óf horisontaal lê óf gekantel word, wat dit onder andere moontlik maak vir leerders wat rolstoele gebruik om gemakliker te speel.
Die aangepaste marimbas verskaf baie vreugde en waardevolle leerervarings aan die skoolgemeenskap.
Die marimba-orkes het talle optredes op hul kerfstok, onder andere tydens die skool se 25ste bestaansjaarvieringe en by die South Arican Education Law Association se (Saela) konferensie, waar voormalige hoofregter Raymond Zondo onder die gaste was.
Hulle is ook hierdie jaar by die South Cape Arts Festival as Best Instrumental Ensemble aangewys.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’