GEORGE NUUS - Nog onsmaaklike voorvalle waar skeids-regters die teiken was, het die afgelope naweek op rugbyvelde in die SWD voorgekom.
In een van die voorvalle is 'n skeidsregter na bewering Saterdag 5 Augustus in Borcherds deur 'n afrigter van 'n span met 'n vuurwapen gedreig.
Dit is Maandag 7 Augustus deur Gavin Esau, voorsitter van SWD-skeidsregters-vereniging, bevestig.
'n Ander voorval het na bewering in 'n klubwedstryd in Oudtshoorn plaasgevind en nog een in 'n wedstryd tussen twee skolespanne in Groot-Brakrivier.
Esau het gesê die voorval is reeds na SWD-rugby se tugkomitee verwys. "Ons beskou die beweerde voorval in 'n baie ernstige lig. Ons is van voorneme om dit met SWD-rugby en SA rugby te bespreek. Ons kan nie so voortgaan nie."
Esau het die skeidsregter wat geteiken is gevra om 'n kriminele klag by die polisie te gaan lê.
Volgens Esau sal die vereniging 'n verslag oor die voorval opstel. Hy kan nie die saak vooruitloop nie.
Hy het gesê die jongste beweerde voorval versterk die persepsie oor veiligheid van skeidsregters. Mense is al klaar onwillig om as skeidsregters in wedstryde op te tree.
Sonder om na die spesifieke voorval te verwys, het hy daarop gewys dat daar 'n regulasie van SWD-rugby en die vereniging is wat bepaal dat niemand met 'n vuurwapen by 'n klubwedstryd of 'n provinsiale wedstryd mag opdaag nie.
"Dit moet streng toegepas word," het hy
gesê. Volgens hom moet klubs veiligheids-planne hê en van die klubs se planne is nie in plek nie.
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die spesifieke voorval waarin 'n skeidsregter na bewering met 'n vuurwapen gedreig is nie.
"Die saak is na die tugkomitee verwys en die aangeleentheid is sub judice."
Volgens hom is sulke soort voorvalle egter onaanvaarbaar.
"Voorvalle waar die veiligheid van skeidsregters bedreig word, sal nie geduld word nie."
Die ondersoek na 'n onlangse voorval waar 'n skeidsregter na bewering voor 'n wedstryd in Knysna aangerand is kon nog nie afgehandel word nie.
Verteenwoordigers van die twee klubs en die skeidsregter sou Donderdagaand, 3 Augustus, tydens 'n vergadering by Outeniquapark in George die geleentheid kry om hul kant van die saak te stel. Esau het gesê verteenwoordigers van een van die klubs het nie opgedaag nie. Die klub is nou gedagvaar om voor die komitee te verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’