GEORGE NUUS - Die balle in die eerste handelsliga-rolbaltoernooi van die jaar by Outeniqua-rolbalklub, die Boardware Love 4 Vintage Somerliga, gaan vanaand (Donderdag) weer klap wanneer die 28 spanne mekaar gaan pak.
Die gewildheid van die toernooi het tot so 'n mate toegeneem dat die groot aantal spanne wat ingeskryf 'n loting genoodsaak het. Die spanne wat dit nie in die loting gemaak het nie, sal na verwagting in die volgende reeks geleentheid kry om te speel.
Baie van die spelers kon nie wag dat die eerste toernooi moet afskop nie en het dadelik begin inskryf toe die datum aangekondig is.
Boardware is die nuwe medeborg van die toernooi saam met Love 4 Vintage nadat Kommaweer Stoffeerders na verskeie toernooie besluit het om 'n blaaskans te vat.
Skubbe, wat met die kampioenskapstitel in die vorige toernooi weggestap het, het nie vir hierdie reeks ingeskryf nie en sal dus nie hul titel verdedig nie.
Die toernooi sluit ook 'n paar groentjie-spanne in wat hul hande vir die eerste keer aan die swartballe gaan waag.
Besighede kry met die toernooi 'n ideale geleentheid om dit as 'n spanbougeleentheid vir hul werknemers te benut. Behalwe die spelers word die spanne ook baie goed deur vriende en kollegas ondersteun wat dit 'n besondere sosiale geleentheid maak.
Daar is ook nog geleentheid vir borge en ander helpers wat by die toernooi betrokke wil wees. In hierdie verband kan Greg Young by 082 804 8943 geskakel word.
Die wedstryde begin om 18:00 op die bane van die Outeniqua-rolbalklub in Airwayweg, Heatherpark, met die gelukstrekking wat teen ongeveer 20:00 plaasvind.
Die klublede en helpers berei ligte etes voor tydens die wedstryde en 'n kontantkroeg is ook beskikbaar.
Spanne:
Agterste Speen (Conti Kitchens), Angel's (Eden Gemeente ), Blue Back Boogie (Sanlam), Boardware, Bowling Stones (Love 4 Vntage ), Bruwer Reynolds Prokureurs, Disasters (Club Master), 4 Musketeers (4-Sure Administrators), Halfway Toyota, Hereford Group George, Hot Stuff (privaat), Jack's Paint & Hardware, JDL Printing, Just Property, KTV (Kirsten & Tulleken Vervoer), Kommaweer Stoffeerders, Mac Dee Hops, MDL Martin & De Lange Attorneys, Mend a Bath, Miskruiers (privaat), Odd Balls (Sanlam Private Wealth), Pik 'n Wyn (Penguin Gas), Ricoh, Roux Prokureurs, Shell Kraaibosch, Supporters (privaat), Total Gas (Total Sandkraal), Vorster Motors. Reserwes: Moore Stephens, Butz & Gutz (Young Ambassadors) en Bushwackers (Tavcor).
Wedstrydlys:
Agterste Speen t Angels; Blue Back Boogie t Bowling Stones; Bordware t Miskruiers; Bruwer Reynolds Prokureurs t 4 Musketeers; Disasters t Halfway Toyota; Hereford Group George t Jacks Paint & Hardware; JDL Pringting t Kommaweer Stoffeerders; Just Property t MDL; KTV t Mac Dee Hops; Mend a Bath t Vorster Motors; Hot Stuff t Roux Prokureurs; Odd Balls t Ricoh; Pik 'n Wyn t Total Gas; Shell Kraaibosch t Supporters.
Skubbe se manne glimlag breed nadat hulle die vorige reeks se kampioene was. Die verteenwoordigers van die twee borge, Mariaan Rheeders (Kommaweer Stoffeerders) links en Cindy de Jager (Love 4 Vintage) vier fees saam met die spanlede. Nou is Skubbe nie daar om hul titel te verdedig nie, nadat hulle nie vir hierdie reeks ingeskryf het nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'