GEORGE NUUS - Om iemand te hê wat in jou glo kan jou wêreld verander, vra net vir Renado Cherry van Pacaltsdorp. Renado (41) wat nooit regtig aan sport deelgeneem het of gimnasium toe gegaan het nie, is vandag 'n liggaamsbouer wat deel is van die Physical Culture Association (PCA) Suid-Afrikaanse span.
Hy is onlangs tot die span gekies na hy nog 'n kompetisie gewen het. Volgens Renado het hy maar so onlangs soos vier jaar gelede ernstig begin oefen.
"Dit was eintlik my afrigter wat geglo het ek kan professioneel deelneem en het van sy geheime met my gedeel om die beste uit my oefensessies te kry."
Hy vertel as deel van PCA wil hy graag volgende jaar deelneem aan die PCA Wêreldkampioenskap in Birmingham, Engeland. Hy sou ook graag in Korea aan die Super Series wou deelneem, maar
28 September is te kort om genoeg fondse te in. Renado sê hy het dus alle hulp nodig om sy doel te bereik om Suid-Afrika volgende jaar in Mei te verteenwoordig.
"Ek gaan net eers 'n kort tydjie rus voor ek weer voltyds begin oefen." Hy sê liggaamsbou het vir hom 'n passie geword en hy doen alles in sy vermoë om die beste liggaamsbouer te wees.
Kontak Renado by 078 903 9592 as jy of jou maatskappy kan of wil help.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'