Gallery
GEORGE NUUS - Aanwesiges tydens die amptelike opening van die Wes-Kaap A-swemkampioenskappe Saterdagmiddag, 10 Desember, kon seker nie verkwalik word as hulle gedink het dis net so nat buite die water as binne die water nie.
Saterdagmiddag het reën by tye uitgesak, maar dit kon nie die geesdrif van deelnemers en toeskouers demp nie. Van die toeskouers het sambrele nadergetrek en die swem dopgehou.
Die geleentheid het by die Conville-swembad plaasgevind. Dit het Vrydag begin en tot gister Dinsdag, 13 Desember, aangehou.
Altesaam 440 swemmers vanoor die provinsie het deelgeneem.
Die amptelike opening is deur onder meer Brendan Adams, 'n burgemeesterskomiteelid van die George-stadsraad, bygewoon en die land se Volkslied is gespeel.
Adams het gesê die geleentheid help George se ekonomie en is 'n ekonomiese inspuiting vir die stad. Dit is ook tot voordeel van swemmers in die SWD wat daaraan kan deelneem.
FOTOGALERY: Wes-Kaap A-swemkampioenskappe by Conville-swembad
Lluwellyn Coetzee, president van Wes-Kaap-swem en ook Eden-swem, het gesê die kampioenskappe is die grootste swemgeleentheid in die provinsie.
Dis 'n geleentheid vir die topswemmers in die Wes-Kaap.
Volgens hom het die reënweer glad nie die geleentheid gedemp nie. Die kinders het dit baie geniet om in George te wees.
Hy het George se inwoners en die munisipaliteit bedank vir hul gasvryheid en die rol wat hulle gespeel het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'