Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Dis nie aldag dat netbalafrigters en -spelers op primêre vlak die geleentheid kry om te leer van iemand wat Suid-Afrika reeds op die hoogste vlak verteenwoordig het nie.
Dit is egter presies wat op 14 Desember gebeur het toe Lenize Potgieter, een van Suid-Afrika se voorste netbalspelers, 'n draai by Laerskool George-Suid gemaak het.
Sy het tyd afgeknyp om spelers van die skool en die netbalafrigters in die fynere kunsies van die spel touwys te maak. Netbal is 'n baie gewilde sport by die skool.
Potgieter het al 85 keer Suid-Afrika se nasionale span, die Proteas, verteenwoordig. Alle aanduidings is dat sy aanstaande jaar een van Suid-Afrika se sleutelspelers gaan wees wanneer die netbalwêreldbeker in Kaapstad aangebied word. Dit vind van 28 Julie tot 6 Augustus plaas.
Sas du Plessis, die skoolhoof, het gesê hulle wil seker maak dat die kinders reeds van 'n jong ouderdom af die regte metodes aanleer. Dis 'n groot voorreg vir die skool om sportlui van die kaliber by die skool te kan ontvang.
VIDEO: Netbal stêr wys hoe
Potgieter is 'n doelskieter en het gesê sy was regtig opgewonde om die kliniek by die skool te kon aanbied.
Sy het Suid-Afrika reeds die eerste keer in 2014 teen Skotland verteenwoordig. Op skool het sy ook hokkie gespeel, maar dit was nie vir haar nie.
Volgens haar is netbal 'n sport wat groei. In die stadium is die grootste uitdaging fondse.
Die aanbied van die wêreldbeker beteken baie vir sport in Suid-Afrika en die kontinent.
Lenize Potgieter, een van Suid-Afrika se voorste netbalspelers tydens die afrigtingskliniek by Laerskool George-Suid. Foto: Eugene Gunning
Volgens haar het Suid-Afrika vir seker 'n kans om aanstaande jaar die beker te wen. Sy is opgewonde oor die wêreldbeker.
Anke Kapp, 'n netbalspeler van die Eden-span, het gesê dis 'n groot voorreg vir 'n skool as iemand van Potgieter se kaliber 'n afrigtingskliniek daar hou. Veral vir die kleintjies.
Sy het die geleentheid in haar privaat hoedanigheid bygewoon en self baie daaruit geleer. Daar moet in gedagte gehou word dat netbal 'n baie tegniese sport is en dat daar ook baie tegniek by betrokke is.
Lenize Potgieter, een van Suid-Afrika se voorste netbalspelers saam met netbalafrigters van Laerskool George-Suid. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'