GEORGE NUUS - Die Wes-Kaapse Provinsiale Pickleball-kampioenskappe is die afgelope naweek vir die heel eerste keer in George aangebied met 37 spelers van so ver as Kaapstad wat hier saamgetrek het.
“Die toernooi is gekenmerk deur indrukwekkende spel en opwindende heen-en-weer sessies. Spelers het hul vaardighede ten toon gestel met puik en strategiese spel.
"Ons is baie tevrede met die afloop van die geleentheid,” sê Jan Fourie, Pickleball George se eienaar.
Die geleentheid is aangebied in samewerking met die George-tennisklub en wedstryde is opgedeel tussen Pickleball George se bane en dié van die tennisklub.
“Die twee topspelers van die provinsiale kampioenskappe kwalifiseer vir die nasionale kampioenskappe wat van 20 tot 23 Junie in Gauteng aangebied word,” sê Fourie.
Pickleball het in Amerika uit tennis ontstaan en word gespeel met ’n klein spaan en plastiekbal met gaatjies wat nie ’n baie hoë spoed bereik nie.
Dit verskil van paddle in die sin dat daar geen mure om die baan is waarvandaan die bal gespeel kan word nie.
Die provinsiale wenners is:
Mansenkels: Andrew Joerning
Vroue-enkels: Maaike Ferreira
Mansdubbels: Andrew Joerning en Gerhard Spangenberg
Vrouedubbels: Maaike Ferreira en Eunice van Zyl
Gemengde dubbels: Martinique Ferreira en Logan Woolfson
Vrouedubbelswenners Eunice van Zyl (links) en Maaike Ferreira. Maaike is ook die enkelspelwenner.
Wenners van mansdubbels is Andrew Joerning (links) en Gerhard Spangenberg. Andrew is ook die mansenkels-wenner.
Logan Woolfson en Martinique Ferreira, wenners van die gemengde dubbels.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’