GEORGE NUUS - Lloyd Bosman met 'n tyd van 29 minute 11 sekondes is die wenner van die Palm Tyres 10 km-padwedloop en hy het ook die aansporingsprys van R1 000 gewen na hy die wedloop in minder as 30 minute kon voltooi.
Op Saterdag 15 Junie was die middelpunt van belangstelling die Palm Tyres 10 km- en 5 km-padwedlope wat in Courtenaystraat deur Rainbow-atletiekklub aangebied is.
Wedlope is in ideale, windstil weer en 'n feestelike atmosfeer aangebied danksy die Coca-Cola musiekwa. Ongeveer 280 inskrywings is vir die 10 km ontvang en 130 vir die 5 km.
Dit was uit die staanspoor duidelik dat die voorste atlete van Atletiek SWD slaggereed was om mekaar die stryd aan te sê, met vele besoekende atlete wat ook aangetree het om aan aan die prestige wedlope deel te neem.
Die wedlope het teen 'n vinnige pas afgeskop. In die 10 km het die steratleet Lloyd Bosman van Nedbank-atletiekklub, wat onlangs 2de by die Twee Oseane Marathon geëindig het, soos gebruiklik weggestap met die louere in 'n skitterende tyd van 29 minute 11 sekondes.
Kort op sy hake was sy spanmaats Francois Maquassa met 30 minute 55 sekondes en Selwyn Matthews met 31 minute 10 sekondes onderskeidelik in die tweede en derde plekke.
In die vroueafdeling het Melissa van Rensburg van Nedbank-atletiekklub koningin gekraai met 'n tyd van 40 minute 08 sekondes, gevolg deur Nikki Walter van Knysna Marathon-klub met 40 minute 29 sekondes en Annerie Donald van 32Gi Hardloop-klub met 'n tyd van 41 minute 22 sekondes.
Volgens die erepresident van Rainbow-atletiekklub, Norton Scholtz en Sidwell Oktober, voorsitter van die klub het die aantal inskrywings hulle wildste drome oortref. Hulle het tot uit medaljes geraak in die 5 km-wedloop.
PJ Botha van Palm Tyres het gesê hy wil in 2025 die wedloop sien groei wanneer dit vir die 28ste keer aangebied sal word. Botha glo ook dat Palm Tyres en Dunlop groter sal inkoop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’