GEORGE NUUS - Die mans-driespelspanne van Outeniqua-rolbalklub het skitterend gevaar in die mans-driespelkampioenskap van Eden-rolbal deur met goud en silwer weg te stap.
Die kompetisie was van meet af aan taai tussen puik spanne van oor die hele streek, met verskeie provinsiale spelers in hul geledere, wat ingeskryf het.
Outeniqua-rolbalklub se spanne het egter deurgaans koelkop gebly en die een struikelblok na die ander oorkom om die uitspeelstryde te bereik.
Uiteindelik was dit die twee spanne van dieselfde klub wat in die eindstryd mekaar gepak het.
Die span van Billy Radloff met Robin Gibbs en Terrence Wilson het uiteindelik met goud weggestap terwyl Greg Young se span met John Dampier en Bennie van Loggerenberg silwer verwerf het.
Piet Robbertse se span van Stilbaai-rolbalklub het brons gewen.
Greg Young (middel) en sy spanmaats, Bennie van Loggerenberg (links) en John Dampier wat die silwermedaljes gewen het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'