GEORGE NUUS - Die lewe van 'n suksesvolle sportad-ministrateur verg hope vasberadenheid, toewyding en dissipline.
Daar is baie laat aande en vroeë oggende, tyd weg van die familie, en soms moet 'n mens harde bene kou om dinge wat nie vir jou op 'n skinkbord gegee word nie op 'n ander manier te bekom ten einde jou atlete te help.
Dit is iets wat Overton November alte goed verstaan. Hy is onlangs deur die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport met 'n Sportlegende-toekenning vereer.
November, 'n afgetrede onderwyser, voorheen verbonde aan Hoërskool Pacaltsdorp, het nagenoeg 42 jaar van sy lewe onbaatsugtig gewei aan die ontwikkeling, transformasie en groei van atletiek en rugby in die Eden-distrik en verder.
Hy is op 13 Maart tydens die sewentiende toekenningsgeleentheid hartlik vereer.
"So 'n toekenning maak 'n ou hand baie bly," sê November met 'n nederige glimlag op sy gesig.
Hy sê in hierdie beroep moet 'n mens maar plat op die aarde wees, nie aan rewards dink nie, maar eerder altyd die belange van die kind op die hart dra.
Vir Overton was die prestasie van sy atlete genoeg beloning. "Dis altyd vir my 'n pluimpie as van my kinders uitstyg en hoogstes bereik, om te weet ek het 'n handjie daarin gehad."
Overton verduidelik dat deel van sy sukses as sportadministrateur toegeskryf kan word aan die ongelooflike ondersteuningsnetwerk waarmee hy geseënd is. Sy vrou, Sandra, was vir baie jare 'n 'weduwee' met begrip en sy eersgebore seun, Searwin (42) moes soms maar instaan om te help met Curtis (38) en Tammy (30). Hy sien dus nou uit daarna om nou terug te gee aan sy vrou.
Meer oor die toekenning
Die Sportlegende-toekenning dien om legendes, helde en ikone wat 'n merkwaardige bydrae tot die bevordering van sport in Suid-Afrika en spesifiek in die Wes-Kaap gelewer het, te vereer.
Baie van die wat vereer word het teëspoed tydens Apartheid oorkom ten einde die Suid-Afrikaanse sportlandskap te vorm.
"Julle plek in die geskiedenis is verewig, nie as gevolg van 'n spesifieke wedstryd, rekord of kampioenskap nie, maar as gevolg van die lewens wat julle verander het. Julle nalatenskap is nie net in die verlede nie, maar dit lê in elke kind wat julle gementor het, elke atleet wat julle afgerig het en elke lid van die gemeenskap wie se lewe julle verbeter het," het Richard MacKenzie, die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport gesê.
Hoogtepunte uit Overton se loopbaan
- Overton studeer onderwys aan die Onderwyskollege Suid-Kaapland.
- Begin in 1983 skoolhou by Hoërskool Pacaltsdorp.
- Dien op die Suid-Kaapse skolesportunie sedert 1983 (atletiekbeampte, rugbykeurder en -afrigter).
- ASA atletiekbeampte (op hoogste vlak in SA).
- ASA beampte fasiliteerder.
- ASA skeidsregter.
- Dien op die SWD-atletiekbaan en -veldkommissie.
- Keurder van SWD-hoërskolerugby.
- Afrigter van die rugby akademiespan van 1995 tot 2003, en weer 2016 tot 2017.
- Hoofafrigter: 2004 SWD Craven Week-span (lewer daardie jaar drie SA skolespelers op).
- Speel rugby vir SWD seniors, SWD Arende B-span (Bontebokke), Evergreens.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’