Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Vir 'n oudleerder van Hoërskool Outeniqua, Ruben Burger, wag 'n tydjie van groot uitdagings. Burger, 'n gewigopteller in die 0/96 kg-afdeling (Olympic weightlifting) vertrek Dinsdag 25 Mei na Kenia waar hy aan die Afrika Spele gaan deelneem.
Sy deelname daar kan 'n belangrike rol speel om te kan kwalifiseer vir die Olimpiese Spele wat later vanjaar in Tokio, Japan, plaasvind.
Uitdagings is vir die 30-jarige Burger, wat op die oomblik in Mosselbaai woon, niks nuut nie. Hy moes al 'n hele paar klippe uit sy pad rol voordat hy op mededingende vlak aan gewigoptel begin deelneem het.
Op skool het hy uitgeblink in hekkies en spiesgooi en hy het ook provinsiale klere verwerf. In 2007 het hy 'n rugbesering opgedoen en moes 'n operasie ondergaan. Die dokter was skepties dat hy ooit weer mededingend aan sport sal kan deelneem.
Ruben Burger in aksie tydens die 2019 Wêreldkampioenskappe in Pattaya, Thailand.
Hy het egter weer in 2009 aan sport begin deelneem. Na skool het hy vir sowat twee jaar bloot geoefen om fiks te bly. In 2012 het hy begin deelneem aan Crossfit. Dit is 'n kombinasie van gewigoptel, gimnastiek en liggaamsbeweging.
In 2016 het sy lewe vir altyd verander. Terwyl hy besig was om vir Crossfit te oefen is hy voorgestel aan Petre Kartew, die afrigter van die Bulgaarse gewigoptelspan. Dié het hom aangemoedig om te fokus op gewigoptel en in 2017 het hy in alle erns daaraan begin oefen.
Sedertdien het hy nog nooit teruggekyk nie.
Kyk 'n video hieronder:
Hy het al verskeie prestasies behaal, waaronder SA kam-pioen en deelname aan die Wêreldkampioenskappe. Burger het al 16 keer die Suid-Afrikaanse rekord in sy gewigsafdeling verbeter.
Hy sien uit na die Afrika Spele. Hy het benadruk dit is nie net krag wat tel in die sport nie, maar ook tegniek. In die sport tel 'n deelnemer soms twee tot drie keer sy eie gewig op.
Volgens hom is dit by verre die uitdagendste sport waaraan hy nog deelgeneem het. Hy oefen gewoonlik twee keer per dag vir ses dae. Om suksesvol te wees moet 'n deelnemer baie toegewyd wees.
Hy geniet die sport baie en sy mikpunt is deelname aan die Olimpiese Spele.
Ruben Burger Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'