GEORGE NUUS - Die 20-jarige downsindroom swemkampioen, Minke Janse van Rensburg, het 'n merkwaardige vertoning tydens die Bombela Swem Suid-Afrika kortbadkampioenskap gelewer.
Die byeenkoms, met Bombela Concession as hoofborg, is van 25 tot 28 September in Pietermaritzburg aangebied.
Minke het aan sewe items deelgeneem, en goud in ál sewe verower. Boonop het sy vier wêreldrekords verbeter. Daarmee verhoog sy haar persoonlike totaal na agt Downsindroom-wêreldrekords, sowel as een in 'n aflosspan.
Op die openingsdag het sy goud gewen in die 50 m-borsslag en die 100 m-individueel gemeng (IM), laasgenoemde met 'n nuwe wêreldrekord.
Die tweede dag het sy die 50 m-vlinderslag se rekord verbeter en die eindronde gewen.
Dag drie het gevolg met goud in die 100 m-vlinderslag, hoewel haar tyd stadiger was as haar persoonlike beste. Sy het egter spoed opgetel in die 50 m-vryslag, waar sy die wêreldrekord in beide die uitdunne en finaal verbeter het.
Met die laaste dag van die kampioenskap het sy goud in die 100 m-vryslag gewen, nadat sy die rekord in die uitdunne verbeter het. In die 200 m-individueel gemeng het sy ondanks 'n kort hersteltyd tussen items steeds voorgebly en die titel ingepalm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’