GEORGE NUUS - Minke Janse van Rensburg, Suid-Afrika se gestremde sportvrou van die jaar en haar familie is baie opgewonde om Sondag na George terug te keer. Hulle land om 13:10 op die George-lughawe. Ondersteuners is welkom en word aangemoedig om haar te gaan verwelkom.
Sy is Saterdagaand, 25 Maart, by Sun City in Noordwes tydens die SA Sport Awards in die afdeling gestremde sportvrou van die jaar as die wenner aangewys. Dit was 'n glansgeleentheid waar die rooi tapyt letterlik uitgerol is.
Daarna was daar oorweldigende reaksie op sosiale media en talle het haar gelukgewens.
Op die oomblik is sy nog in Rustenburg by die SASA-Ii nasionale gala waar sy die week deelneem.
Die 18-jarige swemsensasie van George het by Saterdagaand se glansgeleentheid nie net George nie, maar ook die hele streek trots gemaak.
By die geleentheid is toperkenning gegee aan Suid-Afrikaanse sportlui in al die sport sfere. Sy het reeds verskeie wêreldrekords opgestel. Dit sluit in vier ope-wêreldrekords en verskeie senior wêreldrekords.
Minke se ma, Aletta, en haar pa is saam met haar in Rustenburg. Volgens Hennie is Minke baie opgewonde en verheug oor die toekenning.
"Ons is super trots op ons meisiekind en dankbaar vir haar talent wat so 'n positiewe impak op haar lewenskwaliteit het. Ons is dankbaar teenoor haar afrigters by die Garden Route Swim School en die ondersteuning wat sy daar ontvang en veral ook vir die geleenthede wat Fish Eagle Aquatics en Swem Suid-Afrika skep sodat sy kompeterend kan swem.
"Sy geniet die galas en dit motiveer haar om baie hard te werk. Minke oefen daagliks 'n uur en 'n half in die swembad saam met die klub se senior oefengroep en sy sit nie terug nie, maar swem elke lengte wat hulle swem en doen dit voluit."
Hy het gesê wanneer Minke Sondag na George terugkeer sal daar nie veel tyd vir rus wees nie. "Sy moet afronding doen vir die SA senior nasionale kampioenskappe wat net 'n week later in Gqeberha plaasvind."
Leon van Wyk, George se burgemeester, het Dinsdag gesê die stad is baie trots op Minke. "Dis 'n groot en wonderlike prestasie. Ons is dankbaar dat erkenning gegee word vir gestremdes.
"George het nog altyd 'n sagte plekkie gehad vir mense met gestremdhede."
Minke se volgende internasionale gala is die Global Games in Junie in Frankryk.
Minke is soos 'n vis in die water. Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’