Gallery
GEORGE NUUS - Dis maklik om die Attakwas te wen. Vra net die Georgiet Matthys Beukes, wat verlede Saterdag die Momentum Health Attakwas Extreme vir die tweede agtereenvolgende jaar gewen het.
Hy het die 121 km-ren in 4 uur 51 minute voltooi.
Dis sy derde oorwinning in Suid-Afrika se taaiste uitdaagren nadat hy in 2012 ook dié "Comrades" van bergfietsry, soos dit allerweë beskou word, vir die eerste keer getem het.
Beukes, wat vir Pyga Euro Steel deelneem, het aan die George Herald gesê sy strategie was dieselfde as verlede jaar. "My resep was eintlik baie eenvoudig: handhaaf 'n vuurwarm pas van die wegspring af - en hoop jou teenstanders raak moeg - en bly koelkop tot by die eindpunt. So maklik soos dit."
Komende van een van Suid-Afrika se allerbeste bergfietsryers en waarskynlik die fiksste van almal, is dit 'n mondvol. Dit kan twee topbergfietsryers, Philip Buys, Beukes se spanmaat in spanwedrenne, en die legendariese Switser Karl Platt, beaam. Albei is vooraf, saam met Beukes, as die grootste aanspraakmakers beskou. Maar meganiese probleme het Buys en Platt se Attakwas-partytjie bederf.
Beukes sê sy aanslag op die rekordtyd van Urs Haber van 4:47,56, wat hy met sowat vier minute gemis het, laat hom met gemengde gevoelens.
"Die vinnige pas aan die begin het my later in die ren gevang en ek het begin krampe kry. Toe mos ek mooi kophou. Gelukkig kon ek die berugte Koning van die Berge-klim gemaklik eerste oorsteek en net seker maak ek bly op my fiets."
By die halfpadmerk het hy sy voorsprong tot vyf minute gerek en manalleen voor gejaag. "Oor die laaste 30 km het ek 10 persent minder moeite ingesit in vergelyking met verlede jaar met geen ander jaers in sig nie. My strategie het gewerk en ek het doelwit bereik: om weer te wen." Beukes sê die Attakwas bly een van die moeilikste renne op die kalender en stel amper bomenslike eise aan elke jaer, ongeag jou fiksheid.
"Jou geestelike taaiheid en fisieke fiksheid word tot die uiterste beproef en boonop word jou fiets aan uitdagende terrein blootgestel."
Met dié oorwinning het Beukes gewys hy is vroeg in die seisoen goed op dreef en hy sal beslis met die volgende twee uitdagings, die vierdaagse Tankwa Trek en die Cape Epic, onder die aanspraakmakers tel.
Gert Heyns was in vanjaar se Attakwas tweede in 4:56 met die jong Nicol Carstens derde in 4:57,05. Yolande de Villiers het die vroueren ná 'n opwindende naelrit na die eindpunt in 5:38,05 gewen.
Beukes sê die Attakwas bly een van die moeilikste renne op die kalender en stel amper bomenslike eise aan elke jaer, ongeag jou fiksheid. Foto's: Deidré Cloete
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'